Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats belê R11,4 mjd. in Kanadese myn
’n Myn van Implats naby Rustenburg in Noordwes.Foto: Implats

Impala Platinum (Implats) gaan die Kanadese North American Palladium (NAP) vir sowat R11,396 miljard (K$1,008 miljard) bekom.

Implats, wat platinumgroepmetale (PGM’e) in Noordwes ontgin, het Maandag ná marksluiting in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê hy gaan ’n 100%-belang in NAP bekom nadat hy ’n aanbod van C$19,74 per aandeel aan alle aandeelhouers buiten Brookfield gemaak het.

Hy het Brookfield C$16,00 per aandeel aangebied. Brookfield is ’n filiaal van Brookfield Business Partners en is die meerderheidsaandeelhouer in NAP met ’n belang van 81%.

NAP is ’n primêre produsent van PGM’e en is op die aandelebeurs in Toronto genoteer. Hy bedryf die Lac des Iles-myn noordwes van Thunder Bay in Ontario.

Die myn, wat sedert 1993 in bedryf is, het 237 461 onse palladium produseer in die jaar tot einde Desember 2018.

Die myn hoop om tussen 220 000 onse en 235 000 onse palladium in die jaar tot einde 2019 te produseer.

Die myn bestaan uit ondergrondse en oppervlakbedrywighede asook ’n verwerkingsaanleg.

Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, het Maandagaand in ’n telefoniese gesprek met die media gesê hy glo die verkryging gaan baie waarde tot Implats toevoeg.

Hy sê dit gee Implats die geleentheid om ’n groter rol in die palladium-sektor te speel.

“Ons kyk al die afgelope drie jaar aktief na dié myn,” sê Muller.

Palladium word in katalitiese omsetters vir voertuie gebruik.

Dit het alles oor die bate gegaan, en nie oor waar dit geleë is nie. As daar ’n soortgelyke bate in Suid-Afrika beskikbaar was, sou ons beslis belang gestel het.
Nico Muller

Implats beplan om R4,3 miljard se bestaande kontant te gebruik, asook opbrengste uit die verkoop van oorskotvoorraad (R1,8 miljard) en ’n lening (R5,3 miljard) om die transaksie te finansier.

Implats is die tweede groot Suid-Afrikaanse mynmaatskappy wat PGM’e ontgin wat in Noord-Amerika belê.

Sibanye Gold het in 2016 aangekondig dat hy die Stillwater Mining Company in die VSA vir $2,2 miljard gaan bekom. Dié transaksie is in 2017 beklink.

Die maatskappy het sedertdien sy naam na Sibanye-Stillwater verander.

Hy het op 4 Oktober aangekondig dat hy gaan herstruktureer en ’n beheermaatskappy skep met dieselfde naam wat op die JSE gaan noteer.

Sibanye Gold, soos wat hy tans op die JSE bekend staan, sal ’n filiaal van Sibanye-Stillwater word.

Die transaksie tussen Implats en NAP is onderhewig aan goedkeuring deur verskeie owerhede in Suid-Afrika en Kanada.

Muller sê Implats se besluit om in Noord-Amerika te belê is glad nie ’n teken dat hy nie vertroue in die plaaslike sektor het nie.

“Dit het alles oor die bate gegaan, en nie oor waar dit geleë is nie. As daar ’n soortgelyke bate in Suid-Afrika beskikbaar was, sou ons beslis belang gestel het.”

Implats se aandele het Maandag op die JSE net meer as 1% hoër op R104,27 gesluit. Die transaksie is eers ná marksluiting aangekondig.

Meer oor:  Implats  |  Impala Platinum  |  Palladium
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.