Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats ly enorme verlies van R10,8 mjd.

Impala Platinum (Implats) boer teen rasse skrede agteruit.

Werkers van Implats voor een van dié maatskappy se mynskagte buite Rustenburg. Foto: Reuters

Dié platinummaatskappy, wat vroeër vanjaar aangekondig het hy beplan om 13 000 werkers oor die volgende twee jaar by sy bedrywighede in Rustenburg af te dank, het ’n nabelaste verlies van R10,8 miljard gely.

Dit is vir die boekjaar tot einde Junie.

In die vorige boekjaar het hy ’n verlies van R8,1 miljard gely.

Die maatskappy het Donderdagoggend sy resultate op die JSE se nuusdiens, Sens, gepubliseer.

Koste

In die volgende boekjaar verwag Implats dat sy bedryfskoste tussen R23 900 en R24 800 per ons gaan beloop.

Dit sluit nie koste in wat verband hou met die beplande afleggings nie.

Dit is beduidend hoër as die huidige platinumprys van $802 per ons en die wisselkoers van die rand teenoor die dollar van R14,94. Dit beteken platinum verhandel tans teen sowat R11 974 per ons.

Implats sê die twee groot redes vir die agteruitgang is waardeverminderings van bates by sy bedrywighede in Rustenburg van R13,8 miljard, asook R1,2 miljard ekstra belasting wat hy vir sy bedrywighede in Zimbabwe (Zimplats) moes betaal.

Die belastingkoers het van 15,45% tot 25,75% gestyg nadat ’n spesiale mynlisensie by die bestaande mynlisensie van Zimplats gevoeg is.

Implats se inkomste vir die jaar het met 3% tot R35,9 miljard gedaal.

Dit is ondanks ’n hoër gemiddelde prys wat hy vir sy produkte gedurende die jaar verdien het omdat sy verkope gedaal het.

Die internasionale vraag na platinumgroepmetale was laer, wat beteken dat Implats nou sowat 77 000 fynons platinum berg.

Veiligheid

Wat veiligheid betref, het Implats ook ’n droewige boekjaar agter die rug.

Sewe van sy werkers is in die boekjaar by sy bedrywighede dood. Ses van die werkers is by die bedrywighede in Rustenburg en een by die Marula-myn dood.

Herstrukturering

Implats het vroeg in Augustus aangekondig dat hy sy bedrywighede in Rustenburg drasties gaan herstruktureer.

Hy sê hy gaan oor die volgende twee jaar skagte sluit wat naby die einde van hul leeftyd is of onekonomies is om te bedryf. Hy gaan vyf van die 11 skagte by die Rustenburg-myn sluit.

Dit gaan beteken dat hy sy arbeidsmag daar met 13 000 werknemers gaan verminder.

In syfers

  • Inkomste daal met 3% tot R35,9 miljard
  • Verlies neem met 33% toe tot R10,8 miljard
  • Verlies per aandeel neem met 30% toe tot R14,86

Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, het voorheen gesê: “Hoewel werknemer-rasionalisering onvermydelik is in ’n herstruktureringsproses van dié aard, sal die nodige stappe gedoen word om te verseker dat werkverliese so ver as moontlik deur ’n verskeidenheid van vermydingsmaatreëls verminder word,” sê hy.

Sy verwagte produksie van platinumgroepmetale gaan daarna van 750 000 fynons per jaar tot 520 000 fynons daal.

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het in reaksie op dié aankondiging gewaarsku hy sal staak as onderhandelings oor die beplande afleggings onsuksesvol is.

“Ons gaan nie na die arbeidshof toe hardloop nie, ons het nie die geld nie. Ons gaan hulle looi waar dit die meeste saakmaak – ons gaan hulle met mening pak,” het Joseph Mathunjwa, president van Amcu, gesê.

“Ons sal seker maak dat nie ’n enkele ons platinum onder die grond uitkom nie. Julle weet ons is in staat om dit te doen. Dit is nie bravade nie.”

Meer oor:  Implats  |  Joseph Mathunjwa  |  Rustenburg  |  Edelmetale  |  Amcu  |  Platinum  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.