Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats maak wins; bekommerd oor Eskom, staking

Van ’n verlies na ’n enorme wins.

Impala Platinum (Implats) het Donderdag beduidend beter syfers bekend gemaak vir die halfjaar tot einde Desember 2018 as vir dieselfde helfte van 2017.

Een van Implats se skagte buite Rustenburg. Foto: Bloomberg

“Wat ’n verskil kan ’n jaar nie maak nie,” som Nico Muller, uitvoerende hoof, die ommeswaai in sy resultatevoorlegging op.

Die maatskappy het ’n wesensverdienste van R2,23 miljard gemaak teenoor die verlies van R150 miljoen ’n jaar tevore.

Hy het boonop sy skuldlas, wat voorheen R5,33 miljard was aan die einde van Junie 2018, nou tot R976 miljoen verminder.

Die twee groot redes vir dié ommeswaai was ’n 19,2% styging in verkoopsvolumes van platinum en 31,3% van palladium in die ses maande teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2018.

Muller verduidelik in 2017 is verkope gekniehalter weens onderhoud by sy een smelter. Die maatskappy het weens dié projek platinum en palladium in voorraad gehad. Hy kon van dié voorraad in 2018 verkoop.

Die mandjieprys van platinumgroepmetale, wat gedurende die halfjaar 16% hoër was teen R30 118 per fynons teenoor die ooreenstemmende halfjaar, het ook ’n groot bydrae gelewer om Implats se inkomste met R6,2 miljard tot R23,52 miljard te laat styg.

In syfers

Hier is Implats sy belangrikste syfers vir die halfjaar tot einde Desember 2018 teenoor ’n jaar tevore:

  • Inkomste styg met 36,1% tot R23,52 miljard.
  • Netto wins van R3,23 miljard teenoor netto wins van R556 miljoen.
  • Wesensverdienste van R2,23 miljard teenoor die verlies van R150 miljoen.
  • Wesensverdienste per aandeel van R3,10 teenoor ’n wesensverlies van 21c.
  • Geen dividend is verklaar nie.

Herstrukturering

Ongeag die beduidend beter syfers, beplan Implats om steeds met sy herstrukturering voort te gaan.

Implats het vroeg in Augustus 2018 aangekondig dat hy sy bedrywighede in Rustenburg drasties gaan herstruktureer.

Hy sê hy gaan oor die volgende twee jaar skagte sluit wat naby die einde van hul leeftyd is of onekonomies is om te bedryf. Hy gaan vyf van die 11 skagte by die Rustenburg-myn sluit.

Dit gaan beteken dat hy sy arbeidsmag daar met 13 000 werknemers gaan verminder.

Implats sê hy het teen einde Januarie 2018 sy arbeidsmag by sy Rustenburg-bedrywighede reeds met 1 500 werkers verminder. Hiervan is 110 mense afgelê, terwyl die res pakkette aanvaar het.

Die maatskappy is ook besig om sy Skag 1 te verkoop en hoop om dié proses teen Junie 2019 af te handel.

Veiligheid

Buiten dat Implats sy finansies verbeter het, het hy ook veiligheid by sy myne drasties verbeter.

“In 2016 was ons die swakste platinumprodusent wat betref veiligheid en in 2017 die tweede swakste, maar in 2018 het ons die beste gevaar,” sê Muller.

Een werknemer is in die ses maande aan diens dood.

Staking

As die vakbond Amcu voortgaan met sy staking by alle platinummyne in solidariteit met sy lede wat by Sibanye-Stillwater werk, sal dit ’n enorme invloed op Implats se bedrywighede in Rustenburg hê.

“Dit gaan ons sowat R3 miljoen in inkomste per dag kos as dié staking voortgaan,” sê Muller.

Die maatskappy het bevestig dat hulle ’n aansoek by die arbeidshof ingedien het om ’n interdik teen die staking te bekom. Dit is Woensdag 27 Februarie aangehoor, maar uitspraak is voorbehou.

“Ons praat met Amcu. Ek wil nie bespiegel oor óf die staking gaan voortgaan óf nie, maar ons onderhandel,” sê Muller.

Lees ook: Amcu aan Sibanye oor afleggings: ‘Oorlog kom’

Eskom

“Ons hou die situasie by Eskom dop,” sê Muller.

Hy sê tot voor die beurtkrag wat vroeër die jaar landwyd toegepas is, het hulle nie enige beduidende probleme gehad wat krag betref nie.

Muller sê wat hulle egter meer bekommerd maak as die beskikbaarheid van krag, is wat die nuwe tarief gaan wees.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) maak op 7 Maart sy besluit op Eskom se tariefaansoek bekend.

Muller waarsku na gelang van wat tariewe in die toekoms beloop, kan dit daartoe lei dat méér skagte gesluit sal moet word.

“Ons het nie onafhanklike kragbronne vir ons myne nie, ons is afhanklik van Eskom vir al ons krag,” sê hy.

    Meer oor:  Implats  |  Palladium  |  Platinum  |  Mynbou
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.