Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats se wins maak ’n groot sprong

Een swaeltjie maak nie ’n somer nie, maar die toekoms lyk beduidend beter vir die platinummynmaatskappy Impala Platinum (Implats).

Hy het in die jaar tot einde Junie ’n enorme ommekeer bewerkstellig. Sy netto wins het van R1,1 miljard in die 2018-boekjaar tot R6,8 miljard gestyg.

Implats se myn naby Rustenburg, Noordwes.Foto: Implats

Die maatskappy het ’n wesensverlies van R1,2 miljard omgeswaai in ’n wesensverdienste van R3 miljard.

Die verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) het met 90% tot R10,5 miljard gestyg.

Die maatskappy het nou R1,1 miljard in die bank.

“Wat ’n verskil maak ’n jaar nie,” sê Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats.

“Een goeie jaar is egter nog nie ’n waarborg dat ons nou op lang termyn volhoubaar winsgewend gaan wees nie,” het hy Donderdag aan die media gesê.

Muller sê een van die hoofredes vir die ommeswaai was die beduidend hoër platinumprys in Amerikaanse dollar, terwyl die rand ook verswak het.

Die randinkomste per platinum ons was in die 2019-boekjaar 22% hoër op R31 765 as in die vorige boekjaar.

Beduidend beter produksie by sy bedrywighede het ook gehelp. Platinumverkope het met 12% tot 1,52 miljoen ons gestyg.

Implats het in die afgelope boekjaar R10,7 miljard netto kontant gegenereer. Hy het R2,2 miljard hiervan gebruik om skuld mee te delg.

Implats het ondanks sy goeie prestasie nie ’n dividend verklaar nie.

Die kontant gaan gehou word vir enige onverwagte uitgawes in 2020.

Die maatskappy het ook verskeie lenings wat in die volgende boekjaar betaal moet word. Van die kontant kan moontlik hiervoor gebruik word.

Herstrukturering en werkverliese

Muller sê ondanks die ommeswaai gaan Implats nie afsien van sy herstruktureringsprogram nie. Van dié planne kan egter gewysig word omdat dit twee jaar gelede opgestel is toe die markte onder geweldige druk was.

In syfers


  • Wesensverdienste: R3 miljard (wesensverlies van R1,1 miljard in die vorige boekjaar)
  • Wesensverdienste per aandeel: R4,23 (wesensverlies van R1,71)
  • Dividend: Geen
  • Inkomste: 36% hoër op R48,6 miljard.
  • Verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda): 90% hoër op R10,5 miljard.
  • Verdienste per aandeel: R2,05 (verlies per aandeel van R14,86).

Die plan was om sy arbeidsmag in Rustenburg vanjaar en in 2020 met 13 000 werkers te verklein.

Muller sê die maatskappy gaan steeds voort met die art. 189-proses ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge by sy nr. 1-skag. Die idee is dat ’n kontrakteur die skag voortaan sal bedryf.

Lee-Ann Samuel, direkteur verantwoordelik vir personeelaangeleenthede, sê die fokus van die art. 189-proses is nou eerder om werknemers van Implats oor te skuif na die kontrakteur as om hulle af te lê.

Danksy die markverbetering gaan geen van die 2 200 werkers wat deur die eerste fase van herstrukturering geraak word, nou hul werk verloor nie.

Sommige werkers het wel reeds vrywillige pakkette aanvaar, of is na ander bedrywighede geskuif.

Muller sê die nr. 9-skag sal wel binne die volgende twee jaar gesluit word. “Die skag het bloot nie meer reserwes nie,” sê hy.

Implats beoog heropleiding van die werkers by dié skag sodat hulle na die nr. 16- en die nr. 20-skag geskuif kan word. Dit is twee van Implats se nuwe skagte.

Die nr. 12- en nr. 14-skag wat ingevolge die herstruktureringsplan ook moontlik gesluit kon word, word nou vir eers in bedryf gehou.

Loononderhandelinge

Gesprekke oor lone verloop goed.

“Ons is optimisties dat ons binnekort ’n ooreenkoms met Amcu sal kan sluit, sê Samuel.

“Ons verhouding met dié vakbond verskil baie (wat ander maatskappye moontlik mag hê). Ons werk hard daaraan om daarop voort te bou,” sê sy.

Muller sê hoewel Implats en Amcu goed saamwerk in die loononderhandelinge, moet die erns waarmee albei partye tot voordeel van hul belanghebbendes onderhandel, nie onderskat word nie.

Implats was Donderdag net voor 11:00 byna 3% hoër op R88,90 op die JSE.

    Meer oor:  Impala Platinum  |  Platinum  |  Resultate  |  Mynbou
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.