Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats se wins skiet op, al druk pandemie
Implats se Two Rivers-platinummyn in Noordwes. Foto: Verskaf

Impala Platinum (Implats) het ’n baie goeie boekjaar agter die rug, ten spyte van die uitdagings wat die koronaviruspandemie veroorsaak het.

Die maatskappy, wat platinumgroepmetale (PGM’e) in Suid-Afrika, Zimbabwe en Kanada produseer, se inkomste het in die jaar tot einde Junie met 49% tot R69,9 miljard gestyg.

Dit is hoofsaaklik danksy die swakker rand-dollar-wisselkoers. Die rand was gemiddeld 8% swakker op R15,31 teenoor die dollar in die afgelope boekjaar, terwyl die mandjieprys van PGM’e in dollar met 46% tot $1 624 per ons gestyg het.

Die randwaarde van PGM’e het met 57% tot R24 863 per ons gestyg.

Die maatskappy het ’n bruto wins van R23,3 miljard behaal, 240% meer as in die vorige boekjaar.

Die wesensverdienste van R16,1 miljard, of R20,75 per aandeel, is ’n rekord vir die groep.

Die maatskappy se skuldlas het egter van R7,2 miljard in die vorige boekjaar tot R7,6 miljard gestyg.

Dit is deels weens die verkryging Implats se bedrywighede in Kanada. Dit het hom R10,9 miljard gekos.

Dividend

Implats het ’n slotdividend van R4 per aandeel uitgekeer. Dit bring die totale dividend vir die boekjaar op R5,25 te staan.

Implats het in die afgelope boekjaar vir die eerste keer in jare weer begin om dividende uit te keer.

Nico Muller, uitvoerende hoof, sê as die huidige markomstandighede voortduur, sal die maatskappy in die toekoms daarmee kan volhou.


Pandemie

Muller het Donderdagoggend in ’n aanlyn bespreking van die resultate gesê Implats het goed gevaar ondanks die uitdagings wat die pandemie geskep het.

Muller sê Implats het weens die pandemie R8,5 miljard in inkomste verloor omdat sy bedrywighede gedurende die strenger vlakke van inperking stilgestaan het.

Mark Munroe, uitvoerende hoof van Implats se bedrywighede in Rustenburg, is in dié tyd in hegtenis geneem weens ’n beweerde oortreding van die Wet op Rampbestuur.

Die aanklagte teen hom is later teruggetrek.

LEES OOK: Saak oor SMS teen hoë van Implats laat vaar

Muller sê bedrywighede in Zimbabwe is glad nie deur die pandemie beïnvloed nie. In Kanada moes bedrywighede egter ses weke lank gestaak word toe werknemers daar positief getoets is vir die koronavirus.

Boonop was dit moeilik om werknemers by die myne te kry aangesien baie van hulle heen en weer moet vlieg. Weens inperkingsregulasies was dit nie moontlik nie.

Hoewel Implats se myne in Suid-Afrika teen Augustus weer teen 100% geproduseer het, is nie alle werknemers al terug by die werk nie.

Ouer werknemers met onderliggende mediese probleme, is steeds nie by die werk nie.

Implats gebruik kontrakteurs waar nodig.

19 van die maatskappy se werknemers is tot dusver dood aan Covid-19.

Eskom

Hoewel Eskom vroeër vanjaar, en weer onlangs, beurtkrag ingestel het, word Implats nie werklik nadelig daardeur beïnvloed nie, sê Muller.

Dit is omdat hy nou sy eie smelter in Rustenburg het.

“Die smelter is die eerste wat afgeskakel moet word wanneer daar beurtkrag is. Met dié dat ons ons eie smelter het, kan ons egter bloot later die verlore produksie inhaal.”

Daar was nog nie gevalle van waar beurtkrag só erg was dat werkers nie veilig ondergronds kon gaan nie.

Munroe, wat ook aan die gesprek deelgeneem het, sê ’n groter kommer vir hulle is dat Eskom se infrastruktuur in die omgewing instandhoudingswerk nodig het.

Hy sê daar is dikwels probleme met kragdrade en ander infrastruktuur.

Muller sê hoewel die maatskappy nie tans enige groot planne het om self krag op te wek nie, hou hy verwikkelinge – veral wat betref regulasies – fyn dop.

Implats se aandele het Donderdagoggend bykans 1% laer teen R153,76 verhandel.

Meer oor:  Implats  |  Mynboubedryf  |  Covid-19  |  Inkomste  |  Resultate  |  Mynbou  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.