Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Implats wil moontlik myne oopmaak
Erts op ’n vervoerband in Implats se myn in Rustenburg, Noordwes.Foto: Implats

Impala Platinum (Implats) wat platinum in Rustenburg ontgin, wil moontlik teen Dinsdag weer met van sy bedrywighede begin.

Fin24 berig dat die maatskappy Sondag bevestig het dat hy reeds teksboodskappe gestuur het aan sy werkers om Dinsdag terug te kom werk toe.

Alice Lourens, hoof van beleggersverhoudinge en kommunikasiehoof van Implats, het aan Fin24 gesê dié besluit is geneem “in oorleg met ons belanghebbendes en in ooreenstemming met al die statutêre maatreëls wat deur die regering ingestel is”.

Lourens verduidelik dat die smelters nie heeltemal afgeskakel kan word gedurende die staat van inperking nie.

Die maatskappy het tot dusver materiaal wat reeds beskikbaar was, verwerk om die smelters aan die gang te hou.

Implats sê in ’n geskrewe antwoord op Fin24 se vrae dat hy dié strategie sou kon volg indien die staat van inperking net vir 21 dae geldig was – soos wat oorspronklik afgekondig is.

Noudat dit tot 35 dae verleng is, het die maatskappy aansoek gedoen en sal hy moontlik toegelaat word om weer met “van sy mynbedrywighede” te begin.

Dié aankondiging kom kort nadat Implats Vrydag gesê het dat dit “weke” kan duur om weer die maatskappy se bedrywighede weer ten volle in te stel.

Johan Theron, woordvoerder vir Implats, het tóé aan Bloomberg gesê dit kan tot vier weke neem om die produksie in die land se diep myne te hervat.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika het reeds Donderdag in ’n verklaring gesê hy neem kennis van mediaberigte dat sommige mynmaatskappye dit oorweeg om hul bedrywighede ná 16 April te hervat.

Die raad het gesê hy en sy lede steun die reëls ten volle wat die staat van inperking betref en die invloed daarvan op myne.

Volgens hom is hy egter wel in gesprek met die regering om vas te stel hóé myne weer met hul bedrywighede kan begin, selfs al sou die Covid-19-pandemie nog nie in bedwang wees nie.

“Die Mineraleraad het die afgelope dae met die departement van minerale bronne en energie, asook vakbonde geskakel om ’n manier te vind om veilig te werk te gaan selfs met die beperkings wat die Covid-19-pandemie vereis. Die siekte sal waarskynlik nog ’n paar maande met ons wees, en sommige kundiges dui aan dat die waarskynlike hoogtepunt in Junie vanjaar sal wees.”

Die raad sê dit is egter nog voortydig om enige kommentaar te lewer oor wanneer die myne weer hul bedrywighede gaan hervat.

“Dit sal afhang van besluite wat die regering in die geheel gaan neem nadat die huidige staat van inperking tot ’n einde gekom het. Dit sal ook binne ’n holistiese siening van die hele ekonomie wees. Die mynbousektor sal voortgaan om die standpunte wat die regering in hierdie verband ingeneem het, te ondersteun,” lui die verklaring.

Vakbonde soos Amcu het voorheen voorgestel dat maatskappye en die regering saamwerk om ’n nuwe gedragskode op te stel wat Covid-19 betref.

“Ons kan eenvoudig nie bekostig dat mynwerkers weens die afwesigheid van ’n gekoördineerde benadering by individuele myne tot hierdie pandemie sterf nie,” het die vakbond Woensdag in ’n verklaring gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.