Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
'Koolstoftaks gaan myne miljarde kos'
Koolstofbelasting het ten doen om besoedeling en aardverwarming te bestry. Foto: Pixabay

Koolstofbelasting kan die Suid-Afrikaanse mynbousektor miljarde rande kos en die wetgewing behoort eers hersien te word vóór dit ingestel word.

Dié waarskuwing is deur die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) gerig.

Die MRSA sê dié week in ’n verklaring dat ’n peiling, waaraan 18 van die groter mynmaatskappye in Suid-Afrika deelgeneem het, wys dat dit al die myne saam in die eerste fase van die projek sowat R517 miljoen per jaar gaan kos.

Die koolstofbelasting sal begin op ’n effektiewe vlak van tussen R6 tot R48 per ton koolsuurgas-ekwivalent.

Dit sal in die eerste fase van nou tot einde 2022 geld.

Volgens die MRSA is die probleem dat daar nog geen duidelikheid is oor wat ná 2022 gaan gebeur wanneer die tweede fase ’n werklikheid word nie.

As daar geen aansporings is nie, waarsku die raad, kan dit die mynboubedryf sowat R5,5 miljard per jaar uit die sak jaag.

“Die Mineraleraad verstaan en erken die wetenskap van klimaatsverandering. Ons erken die rol van fossielbrandstowwe in klimaatsverandering, en dat ’n skuif na hernubare energiebronne nasionaal en wêreldwyd, noodsaaklik is,” sê Roger Baxter, uitvoerende hoof van die MRSA.

Hy sê die raad ondersteun Suid-Afrika se onderneming om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder.

Baxter sê die beplande koolstofbelasting, in die afwesigheid van enige ander maatreëls vir klimaatsverandering in die algehele “gereedskapkis” wat aansporings insluit, sal waarskynlik koolstofintensiewe sektore benadeel sonder dat enige middeweg gevind word.

“Ons glo dat die oorgang na ’n lae-koolstof-ekonomie gebalanseerd moet wees en ondersteun moet word deur ’n mededingende belastingstelsel wat van kritieke belang vir beleggings in kapitaalintensiewe bedrywe soos die mynbou is,” sê Baxter.

Hy sê die voorstel dat mynmaatskappye in hernubare energie – en spesifiek sonkrag – moet belê, is makliker gesê as gedaan.

Baxter sê daar is baie regulasies, lisensies wat van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gekry moet word, en ooreenkomste wat met Eskom gesluit moet word.

Die MRSA stel dus voor dat dié belasting vir eers uitgestel word totdat al die regulasies, aansporings en boetes behoorlik uitgepluis is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.