Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Krediteure stem wéér oor plan vir Optimum
Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn.Foto: Argief

Krediteure van die Guptas se Optimum-steenkoolmyn sal Maandag besluit of hulle ’n vierde weergawe van ’n reddingsplan sal aanvaar of nie.

Die plan is luidens ’n hofuitspraak in die hooggeregshof in Johannesburg, reeds op 11 September deur die sakeredders gepubliseer.

Die plan is egter nie bekend gemaak nie.

Bouwer van Niekerk, prokureur van die sakeredders, het aan Netwerk24 bevestig dat die plan “net vir belanghebbendes” is.

Die rede vir die hofsaak is dat Westdawn Investments wou keer dat daar oor dié plan gestem word.

Westdawn, wat as JIC Mining Services handel gedryf het, het ook aan die Guptas behoort.

Die maatskappy is in November 2018 in likwidasie geplaas. Hy het krediteure R60 miljoen geskuld.

Westdawn se likwidateurs voer aan dat Optimum Westdawn sowat R300 miljoen skuld.

Volgens die derde weergawe van Optimum se sakereddingsplan skuld Optimum vir Westdawn R112,5 miljoen.

LEES OOK: Krediteure: Optimum in verval en moet gelikwideer word

Westdawn wil eerder vir Optimum laat likwideer.

Regter Raylene Keightley het egter in haar uitspraak van 26 September bevind daar is geen rede hoekom krediteure nié oor die plan mag stem nie.

Sy het wel bevind dat, ongeag oor of krediteure ten gunste van die plan stem of nie, die hof steeds op 24 November Westdawn se aansoek om likwidasie sal aanhoor.

Die krediteurekomitee van die myn het Westdawn se aansoek gesteun.

Ian Visser, voorsitter van dié komitee, het voorheen aan Netwerk24 gesê daar is geen hoop om die myn te red nie en likwidasie is die enigste uitweg.

Louis Klopper en Kurt Knoop, die sakeredders wat by die myn aangestel is, is steeds oortuig dat die myn gered kan word.

Een van die groot probleme wat Westdawn met die nuutste weergawe van die plan het, is dat Templar Capital glo ’n “onwettige voordeel sal kry” om Optimum te koop.

Templar is die maatskappy aan wie Centaur in Junie al sy eise teen Optimum sedeer het.

Centaur het op sy beurt destyds die Guptas gehelp om die myn by Glencore te koop. Centaur het ’n eis van nagenoeg R1,3 miljard teen Optimum gehad.

Dit is juis dié eis wat deels die rede is hoekom die sakereddingsproses nou reeds meer as twee jaar lank sloer.

Centaur en Eskom was lank haaks oor of eersgenoemde as een van Optimum se grootste krediteure erken moet word of nie, en as hy erken sou word, watter persentasie van die stem hy sou kry wanneer daar oor ’n reddingsplan gestem moet word.

Eskom is sonder twyfel een van Optimum se grootste krediteure.

Luidens ’n vorige sakereddingsplan eis Eskom nagenoeg R1,1 miljard.

Templar se voorstel is nou glo om sy skuld in ’n ekwiteitsbelang om te skakel. Hy stel ook voor om Eskom se eis in steenkool om te sit.

Mining Weekly het voorheen berig dat Templar verder voorstel dat die skuld-tot-aandele-omskakeling insluit dat sekere kwalifiserende voor- en na-aanvangskuldeisers van Optimum die opsie sal hê om op ’n ooreengekome sent-in-die-rand-bedrag betaal te word. Dit sal betaalbaar wees óf in die vorm van kontant óf deur die omskakeling daarvan in nie-stemgeregtigde gewone aandele.

Die totale waarde van Templar se voorstel beloop glo R3,2 miljard. Dit sluit die kapitaal uit om die myn weer in bedryf te stel.

Met dié dat Templar ’n direkte skakel het met Centaur, wat die Guptas gehelp het, is daar nou glo kommer dat die Guptas só weer die myn in die hande kan kry.

Knoop het egter aan City Press gesê sover hulle kennis strek, het Templar geen skakel met die Guptas nie.

Daar is egter groot vrae oor of Templar só ’n plan kan deurvoer nadat ’n hof in Bermuda op 16 September beslis het dat Templar geen van sy bates mag verkoop nie. Dié uitspraak verwys spesifiek na die maatskappy se belang in Optimum.

City Press berig die hof het gewaarsku dat dit minagting van die hof sou wees, sou enigiemand wat bewus is van die uitspraak, dit moontlik maak vir Templar om van van sy bates ontslae te raak.

Knoop sê dié kwessie sal Maandag met belanghebbendes bespreek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.