Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Kwaai vrou aan Guptas: ‘Kom maak my huis reg’
Ajay en Atul Gupta. Foto: Gallo Images

’n Middeljarige vrou het Donderdag in Delmas op ’n vergadering by ’n Gupta-afvaardiging gepleit dat hulle haar huis herstel wat stukkend geskiet is tydens mynbou-bedrywighede by hul Brakfonteinmyn.

Grace Mahlangu het aan Ravindra Nath, uitvoerende direkteur van Tegeta Exploration and Resources, ’n filiaal van Oakbay Resources wat aan die Guptas behoort, gesê haar huis is 11 maande gelede feitlik “plat” geskiet. “Julle skiet dag en nag (met dinamiet). Niemand kan in die nag slaap nie,” het sy gesê.

Sy het op suiwer Afrikaans aan Nath gesê: “Ek soek my huis ­terug.”

Nath het met sy hande voor sy oë gesit en sy kop later agtertoe gegooi.

Mahlangu het gesê nege van haar bure se huise is ook ernstig beskadig. Almal woon in gedeeltes van die huise wat nog staan. Die tien huise is op ’n gedeelte van die plaas Brakfontein en is sowat 500 m van die Brakfontein-oopgroefsteenkoolmyn.

Volgens Mahlangu het sy by die mynbestuur gaan kla oor die skade aan haar huis. “Ek het sommer oor die veld na hulle gestap. Hulle het belowe hulle sal na my huis kom kyk. Ek het maande gewag. Nie een van die Guptas het ooit gekom nie.”

In Februarie vanjaar het sy besluit om die polisie in Delmas te vra om saam met haar na die mynbestuur te gaan. “Ek het gedink hulle sou skrik as hulle die polisie sien. Maar moenie glo nie. Hulle het net aangehou om aan hul pasteie te eet.”

Lede van die gemeenskap, wat glo die vergadering ongenooid bygewoon het omdat dit “gereël is tussen die boere, die mynbestuur van Brakfontein en omgewingskonsultante,” het vir Mahlangu hande geklap.

Dit is julle wat die Guptas in die pers verhoor. Dit is waarom die banke hul geld aan die Guptas se maatskappye onttrek het.
Ravindra Nath

Van die mense wat die vergadering bygewoon het, moes Mahlangu se kommentaar in Engels vertaal sodat Nath dit kon verstaan.

Nath het hierna in gebroke Engels gesê hy neem kennis van die klagte en het die mynbestuur opdrag gegee om ondersoek te doen. Hy het gesê hy wil binne 15 dae ’n volledige verslag hê oor die skade aan die huise.

Media is 'jaloers'

Nath het ná die vergadering aan Sake gevra waarom die Suid-Afrikaanse media so “nydig” is teenoor die Guptas.

“Dit is julle wat die Guptas in die pers verhoor. Dit is waarom die banke hul geld aan die Guptas se maatskappye onttrek het.”

Volgens hom was daar geen ­beriggewing oor die Guptas voor 2011 nie. Ná 2011, toe die familie hul koerant, The New Age, bekend gestel het, het die Suid-Afrikaanse koerante skielik oor die Guptas begin skryf. “Die media in Suid-Afrika is afgunstig oor The New Age se sukses,” het hy gesê.

Hy het gesê die Guptas is in Mei vanjaar weer “terug by die huis”. Hulle is tans in Turkye waar een van die Guptas se seun die naweek trou. Hulle was in Dubai vir sake, het hy gesê. “Hulle het wêreldwyd sakebelange.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.