Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
KYK: Brand rig groot skade aan by Guptas se Optimum

’n Reuse brand het Sondag miljoene rande se skade by die Guptas se Optimum-steenkoolmyn veroorsaak.

Louis Klopper, die sakeredder wat in Februarie 2018 by dié myn aangestel is, het aan Netwerk24 bevestig dat een van Eskom se hoëspanningskragkabels wat gebreek en in die veld geval het, die brand veroorsaak het.

“Die veld om die myn is nou ná die winter kurkdroog. Die gras het vinnig aan die brand geslaan weens die kortsluiting wat veroorsaak is toe die kabel gebreek het.”

Hy sê hulle is dankbaar dat die plaaslike owerhede die brand baie gou onder beheer kon kry en kon blus.

Hy het enige beweringe ontken dat die brand deur brandstigters veroorsaak is.

“’n Mens moet verstaan dat daar hordes stories oor hierdie myn is. Dit is egter glad nie waar dat brandstigters by die brand betrokke was nie,” sê hy.

Klopper sê skade is hoofsaaklik aan die vervoerband aangerig wat die myn met die Hendrina-kragstasie verbind. Hy skat dit kan tussen R15 miljoen en R20 miljoen kos om die skade te herstel.

“Gelukkig het ons tans die tyd om dit te doen,” sê Klopper.

Die myn lewer al ’n geruime tyd geen steenkool nie.

Klopper en Kurt Knoop, die ander sakeredder wat by verskeie van die Guptas se maatskappye aangestel is, wil dié myn, asook die Koornfontein-steenkoolmyn en die Optimum-steenkoolterminaal, ’n aandeelhouer in die Richardsbaai-steenkoolterminaal, verkoop.

“Omdat ons nog besig is met die koopproses en die myn nié tans steenkool lewer nie, is daar geen onmiddellike druk om die vervoerband te herstel nie,” sê hy.

“Ons verwag dat sou die verkoopproses van nou af vlot verloop, dit ten minste ses tot agt maande gaan duur voordat ’n nuwe eienaar dit in bedryf sal kan stel. Daar is dus meer as genoeg tyd om die nodige eise by die versekering in te dien en die vervoerband te herstel.”

Hy het bevestig dat die vervoerband verseker is.

Klopper sê die sakeredders het juis op Maandag 16 September met al die belangstellendes wat die myn wil koop, vergader om seker te maak al die nodige dokumente wat aanbiedinge betref, word ingedien.

“Solank ons nie nou wéér onderbreek word soos wat tot dusver die geval was nie, hoop ons om die verskillende aanbiedinge in Oktober aan die krediteure voor te lê. Ons behoort dan kort daarna die finale sakereddingsplan vir die myne bekend te kan maak.”

Die sakeredders moet verskeie hofaansoeke teenstaan wat die sakereddingsproses vertraag het.

LEES OOK: Guptas: Sakeredders bly aan stuur by Oakbay

John Taylor van GoIndustry DoveBid, wat die verkoop van die bates hanteer, het voorheen aan Netwerk24 bevestig dat agt partye belang stel om die myne en infrastruktuur te koop.

Volgens die sakeredders kan die Optimum- én Koornfontein-myn nog tot ná 2030 in bedryf wees.

Meer oor:  Eskom  |  Louis Klopper  |  Guptas  |  Optimum Steenkoolmyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.