Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Laer staalpryse tref NOK se wins skerp
Swaar mynbou-masjinerie word by Kumba Iron Ore se oopgroefmyn by Kathu ingespan. Die skerp val in ysterertspryse weens die laer vraag uit China het ’n negatiewe impak op die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) se inkomste uit sy finansiering van Kumba Iron Ore gehad.

Laer kommoditeitspryse het die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) se wins die afgelope boekjaar skerp geknou. Dié uitlener finansier nywerheidsontwikkelings­pro­jekte. Sy wins het in die jongste boekjaar met 87% tot R223 miljoen geval van verlede jaar se R1,65 miljard.

Dié daling is grootliks toe te skryf aan die verlies aan die NOK se inkomste uit Kumba Iron Ore. Kumba is deur die laer buitelandse aanvraag na ystererts geknou. Verlede jaar het die NOK ’n dividend van R969 miljoen uit sy Kumba-bedrywighede ontvang, maar vanjaar was daar niks. Terselfdertyd het die staalprodusent Scaw Metals (waarvan die NOK ’n belang van 74% besit) ’n verlies van R1,1 miljard aangeteken. Die landbouchemiese groep Foskor (die NOK besit 54%) se verlies was R568 miljoen.

“Dis tye soos hierdie dat die NOK se teensikliese rol na vore kom,” het die korporasie se uitvoerende hoof, Geoffrey Qhena, in sy jaarverslag geskryf. Hy het beklemtoon dit is belangrik vir die NOK om nywerheidsontwikkeling in die land te bly steun en sy rol as finansier van hoër-risiko-projekte te vervul.

“Op dieselfde tydstip dat die NOK ’n nuwe proaktiewe strategie vir nywerheidsontwikkeling instel om die potensiële negatiewe impak van die swak ekonomiese omstandighede teen te werk, het ons finansiering aangebied vir maatskappye wat in nood verkeer.”

Dié finansiering moes werkgeleenthede help red, het Qhena gesê.

Dis tye soos hierdie dat die NOK se teensikliese rol na vore kom.
Geoffrey Qhena, uitvoerende hoof van die NOK

Van die R14,5 miljard se finansiering wat die NOK in 2016 goedgekeur het, was 45% vir maatskappye in die metaal- en mynbousektor, 33% in die chemiese en farmaseutiese sektor en 6% vir landbouverwerking.

Die droogte het ’n groot impak op die NOK se bedrywighede in die landbousektor gehad, sê Qhena. Die korporasie het die afgelope boekjaar R614 miljoen in dié sektor bestee, insluitend R250 miljoen aan die Landbank om as droogtefinansiering te bestee.

Gemeet oor die afgelope vyf jaar tot 31 Maart 2016 het die NOK R66,3 miljard se finansiering toegestaan. Dit is 53% hoër as in die vorige vyf jaar. Die getal transaksies wat goedgekeur is, het egter in hierdie tydperk met 14% gedaal.

Die gevaarligte het ook begin flikker oor die styging in die NOK se afskrywing van slegte lenings. Dit het in die afgelope boekjaar met 57% toegeneem en die totale persentasie van sy leningsboek wat afgeskryf is, kom nou op 16,9% te staan. Dit is aansienlik hoër as die gemiddelde van 2,9% vir die vier groot handelsbanke, maar volgens Qhena is dit steeds onder die vlak van 20% wat deur die direksie goedgekeur is.

“Ons het verskeie inisiatiewe begin om ’n verdere styging in afskrywings te beperk en is vol vertroue dat dit doeltreffend sal wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.