Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Lasbriewe vir Aurora-base as hulle weer laat is

Die hofsaak teen die direkteure van die Aurora-mynmaatskappy is wéér Dinsdag uitgestel, maar landdros Nkhensani Moila het die beskuldigdes met tronkstraf gedreig indien daar enige verdere vertragings is.

aurora
Khulubuse Zuma (middel) en Thulani Ngubani (regs), twee van die vier beskuldigde direkteure van Aurora Empowerment Systems toe hulle in Mei saam in die streekshof in Springs verskyn het. Foto: William Horne

Moila het aangedring dat die beskuldigdes binne drie maande vandat hulle aangekla is, móét pleit, maar weens vertragings sedert 28 Mei het nie een van die vier direkteure dit al gedoen nie.

Die direkteure staan tereg op vyf aanklagte teen hulle wat verband hou met omgewings- en waterbestuursoortredings by die Grootvlei-myn naby Springs.

Al vyf aanklagte is hoofsaaklik gegrond op oortredings van art. 151 van die Nasionale Waterwet van 1998,

asook oortredings van art. 94 van die Strafproseswet.

Khulubuse Zuma, ’n neef van oudpres. Jacob Zuma, was die enigste van die direkteure wat betyds was in die hof Dinsdag.

Moila het aanvanklik verrigtinge gestaak om kans te gee dat die medebeskuldigdes Zondwa Mandela, kleinseun van oudpres. Nelson Mandela, en Thulani Ngubane wel sou opdaag.

Die vierde beskuldigde, Rajah Alam Shah, het nog nooit verrigtinge bygewoon nie en kruip volgens die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), wat die saak help begin het, in Maleisië weg.

Mandela en Ngubane het toe wel meer as ’n uur laat by die hof aangekom, maar toe verdere beswaar aangeteken teen die plan dat die verhoor Dinsdag begin.

Die beskuldigdes voer nou aan dat die bygewerkte dossier te laat aan hulle oorhandig is om voor te berei vir die hofsaak.

Dié dossier is, na bewering, eers op 31 Oktober aan die beskuldigdes gestuur.

Moila het die uitstel toegestaan, maar gewaarsku dat daar op 22 November gepleit sál word, verduidelik Stefanie Fick, regshoof van Outa, aan Netwerk24.

Die beskuldigdes is ook ingelig dat indien hulle weer laat is, lasbriewe uitgereik sal word om hulle tot die hof te dwing.

Moila het dit duidelik gemaak dat “laat” enigiets ná 08:30 beteken.

Hofverrigtinge in streekhowe begin om 09:00.

Outa het vir meer as twee jaar by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gepleit om die saak teen Aurora aan te pak, en is in Maart vanjaar ingelig dat die dagvaardings sou begin.

Die Grootvlei- en Pamodzi-myn by Springs is na bewering deur Aurora van al sy bates gestroop onder die leiding van die vier beskuldigdes.

Dié beweerde wanbestuur en plundery het daartoe gelei dat suur mynwater in die Blesbokspruit uitgeloop het. Dié spruit is gekoppel aan waterbronne wat na die Vaalrivier lei en dus ’n enorme waterbron in gedrang bring met uiters toksiese chemikalieë.

Suur mynwater bevat hoë konsentrasies metale, soute en sulfiede wat ’n omgewingsramp kan veroorsaak omdat dit omliggende ekostelsels beïnvloed. Dit besoedel oppervlak- en grondwater en kan uiteindelik landbougrond onvrugbaar maak.

Indien die direkteure aan dié oortredings skuldig bevind word, word hulle met tot vyf jaar tronkstraf en/of ’n boete in die gesig gestaar.

Die plundery van die myne het ook regstreeks gelei daartoe dat 5 300 mynwerkers hul werk verloor het.

Sedert die eerste verskyning van die direkteure in die hof op 28 Mei kon van dié voormalige werkers buite die hof gesien word waar hulle betoog vir geregtigheid.

Meer oor:  Aurora  |  Khulubuse ­Zuma  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.