Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Lurco: Eskom pootjie ons om Gupta-myn te koop

Lurco, die maatskappy wat die Guptas se Koornfonteinmyn sou koop, blameer Eskom dat dié transaksie deur die mat geval het.

Lurco is só oortuig van sy saak dat hy hom op die hooggeregshof in Johannesburg beroep het om hom as regmatige koper van die myn aan te wys.

Ellington Nxumalo
Ellington Nxumalo Foto: Elvira Wood

Dié swart ekonomiese bemagtigingsmaatskappy is op 20 Oktober deur krediteure van die Koornfonteinmyn as die gekose koper van dié bate aangewys.

Koornfontein het voorheen aan die Guptas se Tegeta Exploration and Resources behoort.

Dit is in Februarie 2018 in sakeredding geplaas.

Die konsortium se blydskap dat hulle eindelik hul hande op dié bate kon kry, was van korte duur.

Dit kom nadat ’n vereiste gestel is dat die volle koopsom van R500 miljoen binne vyf dae in Suid-Afrika moet wees. Toe Lurco dit nié kon regkry nie, is Black Royalty Minerals (BRM) as die gekose koper aangewys.

“Lurco het dit baie duidelik aan die sakeredders gestel dat die vereiste om die geld so vinnig in die land te kry, was van die begin af irrasioneel en onredelik,” sê Ellington Nxumalo, uitvoerende hoof van Lurco.

Hy, Aubrey Chauke, bedryfshoof van Lurco en Khanyi Zungu, Lurco se regshoof, het die maatskappy se planne met dié myn Dinsdag by Lurco se kantore in Rosebank, Johannesburg, aan die media uiteengesit.

Lurco sê veral gegewe Suid-Afrika se streng valutabeheerregulasies wat hulle verhoed om geld binne ses weke in die land te kry, was dié vereiste onmoontlik om na te kom.

Zungu sê hoewel hulle nie die vergadering bygewoon het waar daar op dié vereiste besluit is nie, is aan hulle gesê dit was Eskom wat dié vereiste op ’n laat stadium gestel het.

Eskom is Koornfontein se grootste krediteur.

“Wat ons verstaan is dat die hele sakereddingsproses reg gevolg is tot nadat ons as gekose koper aangewys is. Daarna het een van die krediteure die vereiste gestel dat die geld binne vyf dae in die land moet wees. Dié voorstel is aanvaar sonder om enige verdere prosesse te volg,” sê sy.

Chauke sê Lurco kan net gis hoekom Eskom só ’n vereiste kon stel.

Lurco kon, net soos die ander moontlike kopers wat op die kortlys was, volgens die reëls van die vergadering, dit nie bywoon nie.

Zungu sê hoewel hulle ’n aansoek by die hof ingedien het om ’n interdik teen die uitvoer van die transaksie met BRM te bekom, is dié aansoek nou verander om die transaksie met BRM ter syde te stel omdat Lurco se diskwalifikasie onwettig was.

“Glo my, ons het alles wettig probeer om die geld betyds in die land te kry. Ons het plaaslike banke genader, ons het alles gedoen,” sê Chauke.

“Ons kommer om die geld betyds in die land te kry het egter geen gehoor gevind nie,” sê hy.

Chauke sê wat ook in gedagte gehou moet word, is selfs al was die geld binne vyf dae in die land, sou dit minstens nog ses maande in ’n plaaslike bankrekening gehou word voordat dit uitbetaal sou word.

“Onthou, daar moet eers aan verskeie ander voorwaardes voldoen word voordat die transaksie afgehandel sou word.”

Een van dié voorwaardes is dat die mynlisensie deur die departement van minerale bronne aan die nuwe eienaar oorgedra moet word.

“Dit kan maande duur. Voordat dit nie afgehandel is nie, gaan die geld ook nie aan krediteure betaal word nie,” verduidelik Chauke.

“So selfs al het BRM die geld nou reeds in die land, gaan dit nie vroeër aan krediteure uitbetaal word nie.”

Nxumalo sê Lurco se aanbod is baie beter as dié van BRM.

“Ons bied werkers 94c vir elke rand wat hulle geskuld word. BRM bied net 37c vir elke rand wat geskuld word,” verduidelik hy.

Hofaansoeke

Lurco se hofaansoek is nie die enigste hofaansoek wat Koornfontein betref nie.

Louis Klopper, die sakeredder wat die Koornfonteinsakeredding hanteer, het voorheen aan Netwerk24 bevestig dat daar nog vyf ander aansoeke is.

LEES OOK: Charles King wil steeds Gupta-myne hê

Klopper het ook bevestig dat die sakeredders en BRM die aansoeke teenstaan.

Aangesien daar nie ’n interdik is teen die transaksie met BRM nie, word daar intussen voortgegaan om dit af te handel.

  • Netwerk24 het voorheen berig dat Lucro saam met die staat se African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC) Koornfontein wil koop. Lurco het wel 'n uitnodiging aan AEMFC gestuur om 'n konsortium te vorm, maar dit het nie gerealiseer nie. Die twee maatskappye is wel 'n konsortium in hul poging om Koornfontein se sustermyn, Optimum, te koop. 
Meer oor:  Tegeta  |  Koornfontein  |  Eskom  |  Lurco  |  Sakeredding  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.