Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Marikana: Nuus oor afleggings nie onverwags
’n Werker stap verby die Marikana-myn. Foto: Bloomberg

Die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater se aankondiging Woensdag dat hy beplan om 5 270 poste in sy Marikana-platinummyn te sny, blyk nie ’n verrassing te wees nie.

Die vakbond Solidariteit sê in ’n verklaring dat hy in die lig van die geskiedenis van dié myn die aankondiging te wagte was.

Hy blameer egter die mynwerkersvakbond Amcu en Ben Magara, voormalige uitvoerende hoof van Lonmin, persoonlik vir die moontlike afleggings.

Sibanye-Stillwater het Lonmin in Junie vanjaar oorgeneem en in die proses die Marikana-myn naby Rustenburg bekom.

“Magara was meer daarop ingestel om Amcu gelukkig te hou as om te fokus op die volhoubaarheid en effektiewe bestuur van die myne. Gevolglik moet Sibanye-Stillwater nou Magara se gemors regstel en onskuldige werknemers moet die prys daarvoor betaal,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Sibanye-Stillwater sê hy het reeds ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge met ’n art. 189-proses begin.

Die moontlike afleggings sluit sowat 3 904 van Sibanye-Stillwater se eie werknemers en sowat 1 366 kontrakteurs in.

Die maatskappy wys daarop dat sy plan om meer as 5 000 werkers af te dank steeds minder is as wat Lonmin voorheen gesê het nodig sou wees om die myn in bedryf te hou.

Lonmin het gesê tussen 2015 en 2020 sou 12 600 werkers afgelê moes word as hy volhoubaar wou voortbestaan.

Sibanye-Stillwater wys daarop dat tussen 2017 en September 2019 het Lonmin reeds sy arbeidsmag met nagenoeg 5 944 werkers (van 32 512 tot 26 568) verminder voordat die oorname deur Sibanye amptelik deurgevoer is. Dit het kontrakteurs ingesluit.

Sibanye-Stillwater mag tot 7 Desember vanjaar egter nie enige werkers laat gaan nie. Dit is deel van die ooreenkoms wat hy aangegaan het toe hy Lonmin oorgeneem het.

Amcu sê in ’n verklaring dat hy Woensdag die kennisgewing en gepaardgaande dokumente ontvang het. Hy wil dit eers behoorlik bestudeer voordat hy verdere kommentaar lewer.

Die vakbond sê wel hy beskou dié plan om te herstruktureer as ’n poging deur Sibanye-Stillwater om eerder op groter winste as die welstand van sy werkers te fokus.

Hy sê in ’n verklaring dat “Amcu sal geen hulpbron spaar om die werksekerheid van werkers te verseker nie”.

Dit was juis ’n staking by Marikana deur onder andere Amcu-lede wat op 16 Augustus 2012 tot die dood van 34 werkers gelei het. Die werkers het onder meer oor haglike woonomstandighede by dié myn gestaak.

Die departement van minerale bronne en energie sê in ’n verklaring dit is jammer dat Sibanye-Stillwater beplan om werkers uit diens te stel.

Hy moedig egter alle belanghebbendes aan om saam te werk om ingevolge wetgewing tot ’n gelyk oor die herstrukturering by die myn te kom.

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Solidariteit  |  Lonmin  |  Amcu  |  Ben Magara  |  Gideon Du Plessis  |  Neal Froneman  |  Marikana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.