Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Mark skop vas teen De Beers se gekweekte diamante
De Beers se diamantverkope sukkel oor die laaste paar jaar. Foto: Bloomberg

De Beers se toetrede tot die mark vir sintetiese diamante skud die bedryf.

De Beers, deel van Anglo American, het drie maande gelede gesê hy beplan om diamante wat in ’n laboratorium gekweek word, teen ’n fraksie van die heersende prys te verkoop.

Daarmee sny hy die wins van mededingers in die mark vir sintetiese diamante soos Chatham Created Gem en Diamond Foundry. Dit het reeds veroorsaak dat die prys van dié laboratoriumgekweekte edelstene, nou ja . . . soos ’n klip geval het.

Dít is presies wat De Beers wil hê, want hy wil die premie verhoog wat vir die regte diamante betaal word wat hy uit sy diamantmyne in Botswana, Namibië, Suid-Afrika en Kanada haal.

De Beers rig sy visier op jonger verbruikers met sy nuwe Lightbox Jewellery-maatskappy wat diamante teen $800 vir ’n steen van een karaat verkoop. Dis ’n vyfde van die prys van bestaande mensgemaakte diamante en ’n tiende van wat ’n soortgelyke natuurlike diamant kos.

Hoewel De Beers sê sy strategie sal klante se verwarring oor mensgemaakte diamante en hul natuurlike eweknieë opklaar, kla sy mededingers steen en been oor sy taktiek.

Die bedryf vir laboratoriumdiamante het reeds ’n klagte by die VSA se Federale Handelskommissie ingedien waarin hy De Beers van storting en roofsugtige pryspraktyke beskuldig.

“De Beers is nie dom nie, hy weet hoe om diamante te kweek, maar hierdie toerusting is nie goedkoop nie en hy verkoop die produk onder kosprys,” sê Tom Chatham, hoof van Chatham.

Op sy beurt sê Bruce Cleaver, De Beers se uitvoerende hoof, hy verwag die laboratorium-vervaardigde diamante sal winsgewend wees. Hy sê egter dit is nie ’n belangrike deel van De Beers se sake nie.

Diamante wat in laboratoriums gekweek word, het dieselfde fisieke eienskappe en chemiese samestelling as dié wat uit myne kom.

Die stene wat in die laboratorium “gekweek” word, sal ’n duidelike merk binne-in hê wat aandui dat dit sinteties is.

Hulle word vervaardig uit koolstof-saad wat in ’n mikrogolf-toestel geplaas en dan superverhit word tot ’n gloeiende plasma-bal. Dié proses skep deeltjies wat binne enkele weke tot diamante kristalliseer.

Die stene wat in die laboratorium “gekweek” word, sal ’n duidelike merk binne-in hê wat aandui dat dit sinteties is.

Dit sal nie met die blote oog gesien kan word nie.

Hoewel De Beers nog nie vantevore mensgemaakte diamante verkoop het nie, vaar hy goed met die vervaardiging daarvan. Sy Element Six-eenheid is een van die wêreld se voorste produsente van sintetiese diamante wat meestal vir nywerheidsdoeleindes gebruik word.

Dit lyk asof De Beers se strategie om sy mededingers te troef, begin vrugte dra.

Die premie op natuurlike diamante het toegeneem sedert sy aankondiging in Mei dat hy die mark vir sintetiese diamante betree.

Dit is veral die een karaat- en halfkaraat-stene wat die grootste prysdalings beleef.

Die afslag op ’n mensgemaakte halfkaraat-steen het van 24% tot 38% gestyg.

Hoewel De Beers sê hy wil nie die klein maar groeiende mark vir sintetiese diamante omvergooi nie, het hy ’n geskiedenis om prys as ’n wapen gebruik.

Toe die destydse Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) besluit het om sy diamante onafhanklik van De Beers te verkoop in die 1980’s, het die maatskappy reusehoeveelhede diamante in die mark gestort en die prys laat ineenstort.

Drie jaar later het dié Afrika-land weer terug in die De Beers-stal beweeg. – Bloomberg, verwerk

Meer oor:  De Beers  |  Mynbou  |  Edelgesteentes  |  Diamante  |  Sintetiese Diamante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.