Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Meer as 100 mynwerkers al dood aan Covid-19

Meer as 100 Suid-Afrikaanse mynwerkers is al aan Covid-19 dood, wys die jongste syfers wat die Mineraleraad van Suid-Afrika bekend gemaak het.

Meer as 100 Suid-Afrikaanse mynwerkers is al aan Covid-19 dood. Foto: Argief

Hiervolgens is 9 955 mynwerkers teen 6 Augustus al positief getoets vir die koronavirus.

Daar is tans 3 919 aktiewe gevalle in die sektor, met 5 934 mynwerkers wat al herstel het. Covid-19, die siekte wat deur die koronavirus veroorsaak word, het al 102 mynwerkers geëis.

Die grootste voorkoms is steeds onder platinummynwerkers in Noordwes.

In die algehele platinumsektor is 4 966 werkers al positief getoets vir die virus, met 48 Covid-19-sterftes.

In Noordwes – waar die meeste van die platinummyne geleë is – is 4 651 werkers tot dusver positief getoets, met 39 sterftes.

Sifting vir simptome word steeds daagliks gedoen op die 325 499 mynwerkers wat reeds teruggekeer het werk toe. Altesame 37 019 mynwerkers is tot dusver vir die virus getoets.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad, het Donderdag op ’n aanlyn voorlegging gesê die pandemie gaan ongetwyfeld ’n groot nadelige invloed op die mynbedryf hê.

Daar word tans baie gesprekke gevoer oor wat gedoen kan word om die sektor behoorlik op dreef te kry. Van die grootste uitdagings wat die raad geïdentifiseer het, is die betroubaarheid en koste van elektrisiteit, die vermoë van die land se spoornetwerk en hawens om minerale te hanteer, beleidsonsekerheid, ’n gebrek aan modernisering by baie myne en spanning tussen mynmaatskappye, gemeenskappe en georganiseerde arbeid.

Ten opsigte van beleid is die raad steeds in ’n regsgeskil gewikkel met die departement van minerale bronne en energie oor presies hoe bemagtiging in die sektor geïnterpreteer moet word.

Die raad sê die Mynbouhandves erken nie ten volle die voortgesette gevolge van vorige bemagtigingstransaksies nie, veral nie wat die hernuwing van mynregte en die oordrag van dié regte betref nie.

Wat bemagtiging betref, erken die handves dat bestaande lisensies wat tans of voorheen aan die vorige vereiste van ’n 26%-bemagtigingsbelang voldoen het, vir die duur van die lisensie nie enige aanpassings hoef te maak nie.

Indien die mynlisensie verval of die mynreg verkoop word, is dié vergunning egter nie oordraagbaar nie.

Die nuwe lisensiehouer of nuwe eienaar moet dan aan die huidige vereiste van ’n 30%-bemagtigingsbelang voldoen.

Baxter sê ook daar word steeds gesprekke gevoer oor hoe myne toegelaat kan word om hul eie krag op te wek.

Meer oor:  Mynwerkers  |  Mynbou  |  Infeksies  |  Sterftes  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.