Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Meganisasie mynwese se voorland
Bore soos dié een wat by die Mponeng-goudmyn gebruik word, gaan in die toekoms waarskynlik eerder met meganiese weergawes vervang word.Foto: Bloomberg

Suid-Afrikaanse myne gaan moet meganiseer as hulle mededingend wil bly.

Dit is die eenparige opinie van ’n paneel sakeleiers uit die mynbousektor Woensdag in Sandton by die Joburg Indaba.

“Modernisering in die mynboubedryf is dringend nodig,” sê Mike Teke, president van die Kamer van Mynwese.

Hy waarsku egter die toenemende gebruik van tegnologie kan die gevaar inhou dat minder mense nodig gaan wees om myne te bedryf.

Norman Mbazima, adjunkvoorsitter van Anglo American in Suid-Afrika, sê hulle maak reeds gebruik van meganisasie in van hul myne.

“Ons het die redes hoekoms ons die spesifieke toerusting wou gebruik, aan die arbeidsmag verduidelik en hulle het dit met ope arms verwelkom,” sê hy.

“Ons maak byvoorbeeld van meganiese bore in van ons myne gebruik en ons het geen teenkanting daarteen gekry nie.”

Frans Baleni, voormalige sekretaris-generaal van die National Union of Mineworkers, waarsku goeie oordeel moet gebruik word voordat myne of prosesse gemeganiseer word.

“Ons kan nie net werkers vervang net om te kan sê ons gebruik nuwe tegnologie nie. As ons wil meganiseer om meer produktief te wees en erts te ontgin wat andersins ontoeganklik sou wees, dan gaan dit die sektor baie help,” sê Baleni.

Ons moet innoveer, nuwe tegnologie gebruik en mense met die regte vaardighede in diens neem om te verseker die sektor sal volhoubaar bly.
Nick Holland, uitvoerende hoof van Gold Fields

Nick Holland, uitvoerende hoof van Gold Fields, sê die mynbousektor innoveer nie net vir die lekkerte nie.

“Ons moet innoveer, nuwe tegnologie gebruik en mense met die regte vaardighede in diens neem om te verseker die sektor sal volhoubaar bly,” sê hy.

Die meganisering van die mynbousektor gaan hand aan hand met die proses om seker te maak werknemers beskik oor die regte vaardighede om in ’n nuwe tegnologies gedrewe sektor te kan werk.

“Die jong mense van vandag is so gewoond daaraan om met koordlose tegnologie te werk dat ons kan aanvaar hulle sal gemaklik daarmee wees in die werkplek,” sê Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye Gold.

“Ons gaan in die toekoms waarskynlik baie meer meganiese en selfs afstandbeheerde toerusting in myne sien,” sê Froneman.

“Ek dink ons gaan waarskynlik minder mense nodig hê om harde handewerk in myne te doen en eerder hoogs gekwalifiseerde operateurs.”

Meer oor:  Kamer Van Mynwese  |  Gold Fields  |  Sibanye Gold  |  Neal Froneman  |  Nick Holland  |  Mynbou  |  Mynwese  |  Mynbou-Indaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.