Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Mense van Koffiefontein kan nou self diamante myn

Die gemeenskap van Koffiefontein in die Vrystaat hoop dat hul vennootskap met Petra Diamonds om op klein skaal op een van hul persele te myn, nie net ekonomiese bemagtiging sal teweegbring nie, maar ook maatskaplike verandering.

Só het Joseph Maqanda, voorsitter van die Koffiefontein Community Mining Primary Cooperative (CMPC) Donderdagmiddag gesê kort nadat ’n lisensie om op een van Petra se persele aan die buitewyke van die dorp te myn, aan hulle oorhandig is.

Sello Bahumi, burgemeester van die Letsemeng-munisipaliteit, saam met James Calvert kort nadat die lisensie om te myn aan die Koffiefontein-gemeenskap oorhandig is. Foto: Mlungisi Louw

Die ooreenkoms tussen Petra Diamonds en die Koffiefontein-gemeenskap is die eerste van sy soort in die Vrystaat en laat dié mense toe om self te myn, die diamante wat ontgin word, te verkoop en die geld terug in die gemeenskap te ploeg.

Petra Diamonds sal die Koffiefontein CMPC onder meer met opleiding, veiligheid en ander aspekte van die mynbedryf help.

Die lint word geknip en nou kan die Koffiefontein-gemeenskap met hul mynbedrywighede begin. Van links is Richard Duffy, hoof van Petra Diamonds, Sehanka Motseoa, uitvoerende burgemeester van die Xhariep-munisipaliteit, Sello Bahumi, burgemeester van die Letsemeng-munisipaliteit, en Charl Barnard, bestuurder van Petra Diamonds by die Koffiefontein-myn. Foto: Mlungisi Louw

Honderde opgewonde inwoners van die dorp het saamgedrom toe Mangaliso Babu, van die Suid-Afrikaanse Reguleerder oor Diamante en Skaarsmetale, die lisensie aan Maqanda oorhandig het.

Maqanda sê hul harde werk was nie verniet nie en dat Donderdag ’n mylpaal in die dorp se geskiedenis is.

“Dit is die begin van groot dinge, maar met uitdagings. Ek doen daarom ’n beroep op die mense van Koffiefontein, die regering en Petra Diamonds om saam te werk en die uitdagings te pak soos dit kom.”

Richard Duffy, uitvoerende hoof van Petra Diamonds, sê dit is die begin van nuwe en groot dinge vir die Koffiefontein-gemeenskap. Hy hoop dat die ooreenkoms waarde tot die gemeenskap sal toevoeg.

“Dit kan suksesvol wees indien dit reg bestuur word, maar dan moet al die vennote saamwerk.”

James Calvert, ’n jarelange inwoner van dié myndorp, sê die inwoners se droom is eindelik bewaarheid, hoewel dit met tyd en swaarkry gekom het.

“My hart is bly. Die dag het uiteindelik aangebreek. Ek hoop dat dit ons dorp sal verryk en uit armoede red.”

Richard Duffy, uitvoerende hoof van Petra Diamonds, praat hier met die gemeenskap van Koffiefontein op die geleentheid vir die oorhandiging van die mynlisensie. Foto: Mlungisi Louw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.