Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Mineraleraad skop veldtog af vir veiliger myne
David Msiza, hoofveiligheidsinspekteur van die departement van minerale bronne. Foto: Elvira Wood

Die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) het Vrydag ’n veldtog bekend gestel om veiligheid in die mynbousektor te verbeter.

Vanjaar het reeds 58 mynwerkers in Suid-Afrikaanse myne gesterf.

“Dit is meer as die 51 van verlede jaar hierdie tyd,” sê Roger Baxter, uitvoerende hoof van die MRSA, wat vroeër die Kamer van Mynwese was.

“Dié statistieke is onaanvaarbaar. Daar was ’n toename in sterftes weens rotsstortings en seismiese gebeure. Ons het ’n spesiale taakspan saamgestel om oplossings te vind.

“Die sektor het die afgelope jare reeds R200 miljoen aan navorsing bestee om te bepaal hoe seismiese gebeure en rotsstortings in veral diep myne vermy kan word,” sê hy.

Die MRSA het die veldtog op die stoep van sy hoofkantoor in die Johannesburgse middestad bekend gestel.

Andile Sangqu, uitvoerende hoof van Anglo American in Suid-Afrika en adjunkpresident van die MRSA, het gesê die stand van sake in die Suid-Afrikaanse myne is onaanvaarbaar. Met die veldtog word al 66 lede van die MRSA aangemoedig om oor die volgende maand

op veiligheid en gesondheid te fokus deur spesiale dae hieroor te hou, sê hy.

Die MRSA steun werkers wat weier om te werk in gebiede wat hulle as gevaarlik beskou. “Hulle moenie dié gebiede betree voordat dit beveilig is nie,” sê Sangqu.

Baxter het ’n beroep op alle belanghebbendes gedoen om saam te werk om die probleem te help oplos.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad van Suid-Afrika, in gesprek met een van die gaste by die bekendstelling van sy veldtog om veiligheid in myne te verbeter. Foto: Elvira Wood

Chris Griffith, uitvoerende hoof van Anglo Platinum en hoof van die CEO Zero Harm Forum van die MRSA, sê dié forum gaan op ’n uitvoerende vlak saamwerk om veiligheid in die myne te verbeter.

Griffith het gesê veiligheid hang nie net van werknemers af nie, maar ook van die tegnologie wat in die myne gebruik word.

“Om geen beserings te hê nie, is nie ’n onrealistiese droom nie. Ons weet van ’n myn waar daar in ’n jaar nie eens ’n pleister op ’n werker geplak is nie. Dit is haalbaar.”

David Msiza, hoofveiligheidsinspekteur van die departement van minerale bronne, sê die feit dat werkers sterf in dieselfde tipe ongelukke wat herhaaldelik gebeur, is kommerwekkend. Hy het onderneem dat die departement sy samewerking aan MRSA se veldtog sal gee.

“Werkers word dikwels die skuld vir ongelukke gegee. Die wet is egter baie duidelik daaroor dat die veiligheid en gesondheid van werkers die verantwoordelikheid van mynmaatskappye is.”

Hy het veral die platinum- en die steenkoolsektor geluk gewens met die verbetering van hul veiligheid.

Msiza sê die departement vergader later vanjaar om die situasie in oënskou te neem.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, waar 20 werkers tot dusver vanjaar gesterf het, het ook die geleentheid bygewoon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.