Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Moody’s: Droogte kan SA mynbou uitwis

Die verwoestende droogtes van die afgelope paar jaar gaan teen 2040 nóg erger word, en dit is veral die mynbedryf wat die grootste skade gaan ly.

Kumba Iron Ore se Sishen-myn gebruik ’n magdom water om ystererts te ontgin en te prosesseer. Foto: Getty Images

Moody’s Investors Service waarsku in ’n nuwe verslag dat waterskaarste ’n enorme risiko vir die reeds beleërde mynbedryf in Suid-Afrika inhou.

Nie net gaan reeds beperkte toegang tot water weens toenemende skaarsheid vererger nie, maar mynbou se posisie op die prioriteitslys gaan ook kwyn.

Moody’s verduidelik dat die probleem nie net is dat water in gebiede soos Suid-Afrika al skaarser gaan word nie, maar dat regulasies ook ingestel kan word om bestaande waterbronne toenemend teen groot nywerhede te beskerm. Dít is om aan die behoefte aan water van ’n groeiende bevolking te voldoen.

Ander lande sukkel ook

“Baie lande, waaronder Peru, Chili, Australië, Suid-Afrika en Mongolië, het groot mynbedrywighede wat aan dalende waterbeskikbaarheid blootgestel is,” sê Carol Cowan, senior visepresident van Moody’s, in die verslag.

Moody’s sê betogings teen mynbou se enorme waterverbruik ten koste van gemeenskappe in streke met te min water het reeds begin. Sowel landsburgers as owerhede blokkeer dan aktief myne se toegang tot water, en dit gebeur reeds in lande soos Peru en Mexiko.

Moody’s meen dat slegs die grootste internasionale mynmaatskappye sal kan aanpas.

Moody’s se waarskuwing is streng bewoord.

Hy meen dat kleiner mynmaatskappye waarskynlik nié die enorme kapitaalkoste sal kan bybring om vir homself alternatiewe waterbronne te verseker nie.

Van die opsies is om water te herwin indien daar nog toegang tot vars water is en sodoende minder “nuwe” water te gebruik.

Maar teen 2040 wanneer die land na verwagting in die “ekstreem hoë”-kategorie van watertekorte gaan val, sal dié opsie nie vir die meeste myne in Suid-Afrika haalbaar wees nie.

Alternatiewe wat groot internasionale mynmaatskappye aanwend, is om ontsoutingsaanlegte te bou wat seewater bruikbaar kan maak. Maar die oprigting van sulke aanlegte is gewoonlik selfs vir ganse metropole of nasionale regerings te duur.

BHP, Rio Tinto, Glencore en Anglo American is groot genoeg om waarskynlik die enorme koste te kan absorbeer, maar terselfdertyd is hul internasionale diversifisering ook juis ’n verdere blootstelling tot meer streke waar water toenemend skaars word. Moody’s verwag dat dié koste ’n beduidende impak op hul wins sal maak.

Kleiner mynmaatskappye sal doodeenvoudig nie die koste kan bybring nie en sal waarskynlik geabsorbeer word deur ander groter myne, wat verder die bedryf in die hande van hoofsaaklik buitelandse maatskappye sal konsentreer.

mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.