Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Motsepe se mynbou-firma spog met rekordwins

African Rainbow Minerals (ARM) gaan sy beleggers met ’n tussentydse dividend beloon ná ’n rekordwesensverdienste in sy afgelope halfjaar.

Patrice Motsepe, stigter en voorsitter van African Rainbow Minerals. Foto: Getty Images

ARM van Patrice Motsepe het Woensdag sy resultate vir die ses maande tot einde Desember uitgereik en ’n styging van 134% in sy wesensverdienste aangekondig.

Sy wesensverdienste was R5,039 miljard – die hoogste tot nog toe.

Die uitstekende resultate is hoofsaaklik gedryf deur markfaktore buite ARM se beheer, veral die hoër dollarpryse vir die platinumgroepmetale (PGM’e) en die verswakking van die rand-dollar-wisselkoers, wat die groep se randinkomste laat styg het.

Die rand was in die ses maande tot einde Desember 11% swakker teenoor die dollar as in die ooreenstemmende ses maande die vorige jaar.

Maar ARM sê sy volumes het ook beduidend verbeter en hy kon dus onder gunstige markomstandighede ook meer verkoop.

ARM bedryf onder meer PGM-, steenkool-, ystererts- en mangaanmyne.

Daar was ’n 99%-styging in die wesensverdienste uit die produksie van ystererts in die ses maande, wat ’n 60%-styging tot R2,955 miljard in die totale wesensverdienste van ARM Ferrous, sy filiaal vir ysterhoudende metaal, gedryf het.

In syfers
  • Wesensverdienste: +134% van R2,15 miljard tot R5,039 miljard
  • Inkomste: +66% van R5,9 miljard tot R9,8 miljard
  • Bedryfswins: +143% van R3,047 miljard tot R7,417 miljard
  • Netto wins: R6,052 miljard
  • Dividend: R10 per aandeel

Sy verdienste kon selfs hoër gewees het as dit nie was vir die hoër produksiekoste weens onder meer die koronaviruspandemie nie.

Maar waar ARM werklik geskitter het, was in sy PGM-resultate.

Die wesensverdienste van die PGM-bedrywighede het met 313% gestyg tot R2,021 miljard, hoofsaaklik danksy prysstygings van onderskeidelik 162% en 35% vir rodium en palladium.

Steenkoolproduksie, aan die ander kant, het gesukkel.

Weens hoër insetkoste, minder verkryging deur Eskom en beduidend laer pryse vir uitvoersteenkool het ARM in hierdie afdeling ’n wesensverlies van R222 miljoen gely.

ARM se kontantposisie het beduidend verbeter.

Die netto kontantsaldo was einde Desember op R4,812 miljard vergeleke met R3,737 miljard ’n jaar tevore.

ARM het ’n tussentydse bruto dividend van R10 per aandeel verklaar. Dit is op 29 Maart betaalbaar vir enigiemand wat voor 26 Maart aandele in die maatskappy besit.

Die totale waarde van die dividend is sowat R2,2 miljard.

    Meer oor:  African Rainbow Minerals  |  Arm  |  Patrice Motsepe  |  Platinum  |  Mynbou  |  Ystererts  |  Goud  |  Palladium
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.