Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Myn van R6 mjd. in KZN ontwikkel

Die myngroep Rio Tinto het aangekondig die volgende fase van die ontwikkeling van Richards Bay Minerals (RBM), wat ’n totale belegging van R6,4 miljard gaan beloop, is goedgekeur.

nog een
Die mynbedrywighede van RBM naby Richardsbaai in die duine langs die KwaZulu-Natalse kus. Foto: Verskaf

RBM is die land se grootste produsent van minerale wat uit sand ontgin word. RBM ontgin reeds sedert 1977 minerale uit die duine langs die kus in KwaZulu-Natal.

Rio Tinto se gedeelte van die belang beloop R4,8 miljard, want hy besit 74% van RBM, en die res word deur bemagtigingsvennote gehou.

Die Zulti South-projek gaan verseker dat RBM sy huidige vermoë kan volhou en die myn se lewensduur kan verleng.

Die maatskappy bedryf reeds vier myne in die Zulti North-gebied naby Richardsbaai, asook ’n aanleg waar die minerale van die sand geskei word, en ’n smeltery.

Rio Tinto sê in ’n verklaring die ertsgraad in die Zulti North-gebied is besig om af te neem en daarom word die nuwe projek benodig om veral die uitset van hoogs winsgewende sirkoon vol te hou.

Die konstruksie gaan na verwagting middel vanjaar begin, afhangende van al die nodige permitte wat verkry moet word. Die eerste produksie gaan na verwagting laat in 2021 begin.

Die belegging word geheel en al met RBM se kontant gefinansier.

Jean-Sébastien Jacques, uitvoerende hoof van Rio Tinto, sê die belegging sal vir dekades voldoende wees.

“Zulti South is een van die beste onderontwikkelde neersettings van minerale sand in die bedryf.”

Hy meen die produksie van Zulti South sal betyds begin om aan ’n groterwordende gaping in voorraad te voorsien.

Bold Baatar, uitvoerende hoof van Rio Tinto Energy & Minerals, sê RBM se veredeling by die myn verseker dat daar nie net gemyn word nie, maar dat waardetoegevoegde produkte wêreldwyd na klante toe verskeep word.

Volgens hom is die maatskappy KwaZulu-Natal se grootste belastingbetaler. Verlede jaar is R1,1 miljard se belasting en tantième betaal.

Die sand wat by Zulti South gemyn word, sal deur RBM se bestaande infrastruktuur verwerk word.

Rio Tinto hou ’n belang van 74% in RBM sedert 2012 en bestuur die bedrywighede. Blue Horizon, ’n swartbemagtigingskonsortium, besit 24%. Die konsortium bestaan uit sekere individuele beleggers en die vier gemeenskappe waar die myne geleë is.

Meer oor:  Rio Tinto  |  Kwazulu-Natal  |  Richardsbaai  |  Myn  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.