Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Mynbaas kap Gwede se plan vir ‘bestaan-myners’
Neal Froneman. Foto: Elvira Wood

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, moet mooi dink voordat hy planne voorlê oor hoe om bestaansmynwerkers amptelik by die sektor te betrek.

Dis die waarskuwing van Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater.

Mantashe het Vrydag met die bekendmaking van die nuutste veiligheidsyfers in die sektor gesê die departement oorweeg planne oor hoe om dié mynwerkers amptelik in die sektor te betrek.

“Daar is baie mynwerkers wat hul werk verloor het en wat die nodige vaardighede het om te kan werk. Die uitdaging is om hulle amptelik by die sektor te betrek, sonder dat sindikate op dié manier ’n voet in die deur kry.”

Mantashe het herhaaldelik gesê dat die onwettige mynwese in Suid-Afrika ’n groot probleem is.

“Dit is ook nie noodwendig die werkers wat myne onwettig betree nie, maar die sindikate wat daaragter sit,” het hy verduidelik.

“Ons wil kyk hoe ons dié mynwerkers kan kry om saam met die groter mynmaatskappye te werk om die hulpbronne wat hulle ontgin, óók in die amptelike produksiestroom in te trek.”

Froneman het ná Mantashe se voorlegging in Pretoria in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê dis glad nie so maklik as wat dit klink nie.

“Dis een ding om werkers te kontrakteer om byvoorbeeld ou mynhope weer te verwerk. Dié hope is deel van ’n myn se bates en nié deel van die grond waarvoor ’n mynlisensie uitgereik is nie.

“Wanneer dit by ’n mynlisensie kom, kan maatskappye dit egter nie net onderverdeel nie. Hulle word verantwoordelik gehou vir die hele gebied,” sê hy.

Gwede Mantashe. Foto: Elvira Wood

Froneman sê dit maak ook nie sin om te sê daar moet gekyk word hoe bestaansmynwerkers toegang kan kry tot dele waar mynmaatskappye self nie meer bedrywig is nie.

“Daar is ’n rede hoekom ons nie meer in daardie gebiede myn nie. Dit maak nie finansieel sin om dit te doen nie. Ek kan nie sien hoe ’n bestaansmynwerker so ’n gebied dan winsgewend sal kan bedryf nie,” verduidelik hy.

Froneman sê nog ’n vraag wat gevra moet word, is oor hoe daar verseker kan word dat bestaansmynwerkers die nodige veiligheidsmaatreëls in werking gaan stel.

“Ons is juis hier waar syfers oor sterftes en beserings in die sektor bespreek word. As bestaansmynwerkers amptelik by die sektor betrek word, hoe gaan daar verseker word dat hul bedrywighede veilig is?”

Op die vraag of bestaansmynwerkers moontlik gekontrakteer kan word om dele van ’n myngebied namens die lisensiehouer te ontgin, sê Froneman hy dink nie die vakbonde gaan beïndruk wees met so ’n voorstel nie.

“Vakbonde vereis reeds hoë standaarde wat betref loononderhandelinge en vergoeding. Daar is tans geen ooreenkoms om byvoorbeeld mense teen ’n laer loon, maar met ’n hoër aansporingsbonus in diens te neem nie. Ons kan ook nie werksure verander om produktiwiteit te verbeter nie.”

Meer oor:  Sibanye-Stillwater  |  Neal Froneman  |  Gwede Mantashe  |  Mynboubedryf  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.