Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Mynbou in SA net ’n skim van die verlede

Suid-Afrika se mynbousektor is vandag net ’n skim van wat hy in die 1980’s was.

Mynbou se bydrae tot die bruto binnelandse produk het van 21% tot minder as 7% gedaal.

Waar dié sektor toe luidens Statistieke Suid-Afrika (SSA) ’n bydrae van 21% tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) gelewer het, is sy bydrae nou net 6,8%.

Boonop het hy nou 39% minder mense in diens. In 1987 het die sektor 760 000 mense in diens gehad. Dit het in 2017 tot 464 667 gedaal.

Dit is volgens die Mineraleraad van Suid-Afrika se nuutste statistieke oor die stand van die sektor.

Die raad het Donderdag statistieke vir 2017 oor die sektor gepubliseer.

Goud

  • Volgens die verslag het Suid-Afrika 4,2% van die wêreld se goud geproduseer. Dit is net ’n fraksie van die 30% wat hy volgens die Amerikaanse agentskap vir geologiese opname (USGS) in 1993 gelewer het.
  • Goud het toe op sy eie ’n bydrae van 3,8% tot Suid-Afrika se BBP gelewer. 

Veiligheid

  • Hoewel 88 sterftes in 2017 beduidend minder is as die tussen 400 en 700 per jaar in die 1960’s, is dit hoër as die 73 van 2016.
  • Boonop is dié syfer steeds aan die klim met 58 werkers wat reeds in 2018 dood is. Dit is 7 meer as dieselfde tyd in 2017.

Toekoms

Die toekoms vir die mynbousektor lyk nie rooskleurig nie.

Die nuutste produksiesyfers vir die mynbousektor wat SSA ook Donderdag bekendgestel het, wys dié sektor het op ’n jaargrondslag in Julie 2018 5,2% minder geproduseer as in 2017.

Dit was veral die goudsektor wat agteruitgeboer het.

Goudproduksie het met 15% verlaag teenoor ’n jaar tevore.

Platinumgroepmetale het ook ’n moeilike Julie agter die blad met produksie wat met 6,2% ineengekrimp het teenoor ’n jaar tevore.

Dit is juis die platinumsektor wat ook ’n groot bedreiging vir indiensneming in die sektor is.

Dit volg nadat Impala Platinum in Augustus aangekondig het hy 13 000 werkers oor die volgende twee jaar uit diens sal moet stel om te verseker sy bedrywighede in Rustenburg, Noordwes, kan voortbestaan.

Beleid

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad sê in die verslag die sektor het dringend beleidsekerheid nodig om belegging in die sektor te lok.

Dit sal volgens hom weer help om die sektor te transformeer en meer mededingend te maak.

“Sonder mededinging sal belegging in nuwe eksplorasie en myne beperk wees en die sektor sal aanhou om agteruit te gaan,” waarsku hy.

Nhanhla Nene, minister van finansies, het Donderdag op die kredietgradeerder Moody’s Investor Service se konferensie in Sandton, Johannesburg, gesê daar word hard gewerk om beleid vir die sektor te finaliseer.

Hy sê Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, sal voor einde vanjaar ’n nuwe mynbouhandves ter tafel lê wat belegging behoort te lok.

Die vorige weergawe van dié dokument, wat in 2017 deur Mosebenzi Zwane, voormalige minister, gepubliseer is, is heftig gekritiseer dat dit beleggers afgeskrik het eerder as om hulle te lok.

Meer oor:  Roger Baxter  |  Goud  |  Platinum  |  Mynbou  |  Mineraleraad Van Suid-Afrika  |  Mynbouhandves
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.