Die treurmare in die mynbousektor duur voort.
Die bedryf het 1,1% minder minerale in Maart vanjaar ontgin as in Maart verlede jaar, luidens die jongste syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Donderdag gepubliseer het.
Dit was die vyfde opeenvolgende maand dat mynbouproduksie agteruitboer.

’n Mynwerker in een van Impala Platinum se myne.Foto: Bloomberg
In Februarie was die syfer op ’n jaargrondslag -7,5%, in Januarie -3,3%, in Desember -4,1% en in November -5,2%.
Die kommoditeite wat die meeste gesukkel het en in Maart tot die agteruitgang bygedra het, was goud (-17,7%), “ander” metaalagtige minerale (-8,1%), chroomerts (-6,4%) en ystererts (-1,6%).
Steenkool (+5,7%) was darem ’n ligpunt vir die sektor.
Seisoenaangepaste syfers wys dat mynbouproduksie op ’n maandgrondslag wel met 3,8% gestyg het teenoor Februarie. Dit volg op ’n daling van 1,5% in Februarie, geen groei in Januarie nie en ’n daling van 1,5% in Desember.
Oor ’n tydperk van drie maande lyk die prentjie donker. In die drie maande tot einde Maart het produksie met 3,4% teenoor die vorige drie maande gedaal.
Verkope
Ondanks die daling in produksie het Suid-Afrika in Maart vanjaar meer minerale verkoop as ’n jaar gelede.
Luidens SSA se syfers was die verkope van R44,4 miljard vanjaar 11,6% hoër as ’n jaar gelede.
Die verkope van platinumgroepmetale (+21,3%), ystererts (+44,1%), mangaanerts (+17,6%) en chroomerts (+21,8%) het gestyg. Verkope in Maart was die hoogste tot dusver in 2019.
In Februarie is minerale ter waarde van R38,1 miljard verkoop teenoor R41,6 miljard in Januarie.
Seisoenaangepaste syfers wys verkope teen huidige pryse het in Maand op ’n maandgrondslag met 5,1% gestyg. Dit volg op -7% in Februarie, -3,2% in Januarie en +3,9% in Desember.