Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Mynbou se nuwe handves dalk einde Oktober klaar
Godfrey Oliphant, adjunkminister vir minerale bronne.Foto: Verskaf

Godfrey Oliphant, adjunkminister vir minerale bronne, sê die departement hoop om gesprekke oor die nuwe Mynbouhandves teen einde Oktober af te handel.

Hy het dié belofte Woensdag in Sandton op die Joburg Indaba gedoen aan leiers van al die groot mynmaatskappye wat in Suid-Afrika bedrywig is.

“Die minister het ook aangedui dat ons verkieslik buite die hof moet skik om die proses te kan afhandel,” sê hy.

Hy het verwys na die hofsaak tussen die departement en die Kamer van Mynwese waar die kamer die hooggeregshof vra om uitsluitsel te gee oor of ’n maatskappy wat minstens 26% van sy aandele aan swart beleggers afgestaan het, erkenning daarvoor moet kry selfs nadat die aandele later verkoop is.

Die departement hou voet by stuk mynmaatskappye moet ten alle tye swart ekonomiese bemagtiging van 26% hê.

Die mynmaatskappye is ook teen die regering se voorstel gekant dat hulle 1% van hul jaarlikse omset aan die ontwikkeling van gemeenskappe in hul omgewings bestee.

Hulle stel voor hulle betaal eerder ’n deel van hul wins.

“Dis ’n regressiewe oplegging, veral op marginale myne,” het Roger Baxter, uitvoerende hoof van die kamer, voorheen gesê.

Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold en voorsitter van die Joburg Indaba, sê ’n peiling onder afgevaardigdes by die konferensie het gewys 64,2% glo die saak behoort buite die hof geskik te word. Sowat 35,8% verkies dat die hof besluit.

Enoch Godongwana, ANC-hoof vir ekonomiese transformasie en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), stem saam. Hy sê veral beleidsonsekerheid, soos die onafgehandelde handves en die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA), is ’n uitdaging vir die sektor.

“Daar is belangrike vrae wat gevra moet word, veral wanneer dit by die bemagtigingsaspek van die handves kom.

“Ons moet heel eerste vra: Wat wil ons bereik? Ek dink nie wetgewers kan dié vraag antwoord nie. Dit moet vanuit die sektor self kom.”

Hy het die onderneming gegee dat die ANC sy insette vir die handves teen einde Oktober sal finaliseer.

“Ons wil ook die nuwe MPRDA afhandel teen die einde van die jaar,” sê hy.

“Ek kan nie sien dat die voorgestelde minimum loon die mynsektor gaan beïnvloed nie, bloot omdat die bedrae wat genoem word, waarskynlik laer is as wat die sektor betaal.

“Wat wel ’n groot kommer is, is uitgerekte stakings in die mynsektor. Hoewel dit beter gaan, is dit iets wat op lang termyn uitgesorteer moet word,” sê hy.

Meer oor:  Harmony Gold  |  Joburg Indaba  |  Sandton  |  Mynbouhandves
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.