Een keer bemagtig, is nou altyd bemagtig – solank die mynreg nie oorgedra word nie.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie Foto: Elvira Wood
Ná ’n jare lange stryd oor die interpretasie van bemagtiging soos vervat in die Mynbouhandves, het Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, nou blykbaar die Mineraleraad van Suid-Afrika en die hooggeregshof in Pretoria se interpretasie aanvaar.
Die Mineraleraad het Woensdag in ’n verklaring gesê hy verwelkom Mantashe se besluit om sy aansoek om appèl te laat vaar teen ’n hofuitspraak wat reeds in April 2018 hieroor gelewer is.
Die hof het in ’n verklarende bevel bevind dat transaksies ten opsigte van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) vir die duur van die mynreg erken moet word, selfs al het die SEB-vennoot ’n deel van of al sy aandele verkoop of oorgedra.
“Die Mineraleraad is bly dat hierdie perspektief nou onbetwis is, ter bevordering van die rol van die raad om die belange van alle belanghebbendes, ook aandeelhouers, te beskerm,” lui die verklaring.
Hersiene weergawes van die Mynbouhandves het bepaal dat myne te alle tye aan sekere SEB-voorwaardes moet voldoen.
Dit het beteken dat ’n myn eenvoudig ’n nuwe SEB-vennoot moes kry as sy aanvanklike SEB-vennoot sy belang verkoop het.
Die kommer was dat aandele op dié manier verwater sou word en dat dit beleggers sou afskrik.
Die Mineraleraad wys daarop dat die verklarende bevel nie sy aansoek oor die 2018-weergawe van die Mynbouhandves raak nie.
Luidens dié weergawe sal historiese SEB-transaksies nie in berekening gebring word wanneer ’n myn en sy mynreg verkoop word nie. Die nuwe eienaar sal moet verseker dat ’n SEB-vennoot ’n belang van 30% in die mynreg besit.
Die saak hieroor is nog in die hooggeregshof aan die gang.