Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Myne is dankbaar, maar skepties oor dié wet
Harmony Gold se Kusasalethu-goudmyn. Die omstrede stuk wetgewing is reeds in 2013 deur Susan Shabangu by die parlement ingedien en hang sedertdien soos ’n swaard oor mynmaatskappye.

Die mynbedryf is dankbaar, maar skepties oor Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, se aankondiging dat hy die omstrede Wysigingswet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne gaan terugtrek.

“Dit kan ’n slenter wees. Ek sal nie verbaas wees as dit ná volgende jaar se verkiesing weer by die parlement ingedien word nie,” sê ’n mynbaas op voorwaarde van anonimiteit.

Die omstrede stuk wetgewing is reeds in 2013 deur Susan Shabangu by die parlement ingedien en hang sedertdien soos ’n swaard oor mynmaatskappye. Dit sou onder meer van mynmaatskappye vereis het om goedkeuring van die regering te kry voordat hulle minerale mag uitvoer. Die regering sou selfs kon gelas dat hulle ’n deel van hul produksie teen kosprys aan swart ekonomiese bemagtigingsmaatskappye moes verkoop.

Daar was baie wetlike probleme met die wet. Dit is uiteindelik in 2015 deur albei huise van die parlement gevoer, maar oudpres. Jacob Zuma wou dit nie onderteken nie weens moontlike grondwetlike kwessies.

James Lorimer, DA-woordvoerder oor mynbou, sê Mantashe se besluit om die wetsontwerp terug te trek maak sin. “Maar ek is ook bekommerd daaroor dat dit dalk ’n set kan wees en later weer ingedien sal word.” Hy sê wel Mantashe is die eerste minister van minerale bronne wat deursigtig en openhartig optree.

Peter Leon, kenner van minerale reg by die firma Herbert Smith Freehills, sê die bepalings van die wetsontwerp was strydig met internasionale handelsooreenkomste wat die land onderteken het.

Ek en die departement begin dink dis die beste om die konsepwet terug te trek en te begin om ’n afsonderlike wet oor olie en gas deur te voer
Gwede Mantashe

Mantashe het Dinsdag in ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor minerale bronne gesê daar is niks om op trots te wees oor vordering om die konsepwet deur die parlement te voer nie.

“Ons het verskeie vergaderings met verskillende belanghebbendes gevoer, maar ons maak geen vordering nie. Dit lyk ook nie asof ons gaan vorder nie. Ek en die departement begin dink dis die beste om die konsepwet terug te trek en te begin om ’n afsonderlike wet oor olie en gas deur te voer,” het hy gesê.

Bepalings om die olie- en gasbedryf te reguleer, is deel van die wetsontwerp. Dié bepalings is nie omstrede nie en daar is reeds grootliks met die oliemaatskappye en ander belanghebbendes daaroor ooreengekom. “Dit sal uitstekend wees as Mantashe die gedeeltes oor olie en gas eenvoudig, vinnig en onveranderd in ’n nuwe wet kan laat herskryf en dit by die parlement indien. Dit kan voor die komende verkiesing reeds afgehandel word. Dit sal uitstekend vir die energiesektor wees,” sê Lorimer.

Hy gaan nou goedkeuring van die kabinet vra om die konsepwet van die parlement se rooster te verwyder. Dit gaan waarskynlik net ’n formaliteit wees.

’n Bron in die regering sê daar is reeds ’n informele ooreenkoms bereik oor die terugtrekking daarvan.

Meer oor:  Susan Shabangu  |  Gwede ­Mantashe  |  Wysigingswet  |  Mynbou  |  Minerale Bronne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.