Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Myne, vakbonde moet saam besluit hoe om te heropen

Mynmaatskappye wat hul bedrywighede wil hervat, moet eers saam met vakbonde ’n prosedure opstel oor hoe om dit te doen.

Mynwerkers by Implats se myn in Rustenburg onderweg na die werkfront.

Die departement van minerale bronne en energie moet dié ooreengekome prosedure dan ook eers goedkeur.

Dit is een van die vele vereistes wat die departement Donderdag in ’n verklaring uitgestippel het oor die proses wat mynmaatskappye moet volg alvorens hulle bedrywighede tot ’n kapasiteit van 50% kan hervat.

Die mynwerkersvakbond Amcu het vroeër vandeesweek ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om te keer dat mynbedrywighede hervat word omdat hy nie daarvan oortuig was dat die regering se maatreëls gaan werk nie.

“Amcu kan nie sy lede toelaat om aan te meld vir diens in omstandighede waar die vakbond nie betrokke was

by die bespreking van hoe myne weer in bedryf gestel gaan word nie en waar daar nie ’n versekering gegee kan

word dat sy lede veilig is nie,” sê die vakbond in die beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is.

Dit kom nadat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, op 16 April aangekondig het dat myne weer teen 50% in bedryf mag kom, onder meer omdat dit veral vir diep myne veiligheidsrisiko’s skep as bedrywighede vir te lank gestaak word.

LEES OOK: Diep myne mag oopmaak, maar daar’s voorwaardes

Ander vereistes wat die departement stel, is:

  • Die noukeurige ondersoek van alle werknemers, insluitende kontrakteurs, voordat hulle toegang tot die myn verkry;
  • toetsing van werknemers met simptome van Covid-19;
  • voldoende sosiale afstand;
  • voorsiening van kwarantyngeriewe vir werknemers wat tekens van Covid-19 toon;
  • ’n program vir persoonlike higiëne; en
  • die verskaffing van toepaslike persoonlike beskermende toerusting, insluitend gesigmaskers.

Die departement moedig myne ook aan om werkers stelselmatig terug te roep werk toe.

Mynmaatskappye wou verlede week, kort nadat die aankondiging gemaak is dat hulle weer teen ’n kapasiteit van 50% kan begin myn, nog nie planne onthul oor hoe hulle dit gaan doen nie weens onsekerheid oor presies hoe die regering hierdie maatreël interpreteer.

Mark Munroe, uitvoerende hoof van Impala Platinum (Implats) se bedrywighede in Rustenburg, is Vrydag in hegtenis geneem nadat hy ’n SMS aan werknemers gestuur het waarin hy hulle gevra het om terug te keer werk toe.

Implats wou sy bedrywighede stelselmatig van Dinsdag 14 April af hervat het. Munroe het egter die SMS gestuur voordat Dlamini-Zuma haar aankondiging gemaak het.

Borgtog van R60 000 is in die landdroshof in Phokeng, Noordwes, aan hom toegestaan.

LEES OOK: Hoë van Implats in hof oor SMS

Reeds voor Dlamini-Zuma se aankondiging was steenkoolmyne ten volle in bedryf omdat hulle steenkool vir kragstasies moet lewer. Ander myne kon net basiese bedrywighede volhou ten einde infrastruktuur in stand te kan hou, veral wat hul verwerkingsaanlegte betref.

Meer oor:  Amcu  |  Impala Platinum  |  Covid-19  |  Myne  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Mynbou  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.