Sibanye-Stillwater, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats) het uiteindelik loonooreenkomste vir die volgende drie jaar met vakbonde gesluit.

Sibanye-Stillwater sê loononderhandelinge het vanjaar vreedsaam verloop. Foto: Reuters
Die onderhandelinge in die goud- en platinumbedryf hou altyd die gevaar in van ’n staking wat die reeds beleërde mynbedryf kan kniehalter.
Die maatskappye sê egter hulle is verlig en baie tevrede dat ’n ooreenkoms sonder ’n staking bereik kon word.
Vir Sibanye sluit dit veral in die feit dat werkers by sy Marikana-myn nou ook gepaai is.
Joseph Mathunjwa, president van Amcu, beskryf die ooreenkoms as 'n "oorwinning" vir Amcu.
"AMCU het die leiding geneem om die huidige status quo te ontwrig waar net die minderheid bevoordeel word en die meerderheid tot armoede veroordeel word," sê hy in 'n verklaring wat Vrydagmiddag deur die vakbond uitgereik is.
Sibanye-Stillwater
Die ooreenkoms maak voorsiening vir ’n verhoging in salaris van R1 000 per maand of 5%, watter een ook al hoër is.
Die totale intreevlak-vergoedingspakket van ’n mynwerker by Sibanye sal nou in die eerste jaar van die ooreenkoms tussen R21 300 en R21 400 beloop. Dit sal toeneem tot tussen R22 400 en R22 600 in jaar twee, en tussen R23 600 en R23 800 in jaar drie.
“Dit is bemoedigend dat die onderhandelinge op ’n konstruktiewe wyse gevoer is, sonder enige ontwrigting,” sê Neall Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, Vrydag in ’n Sens-verklaring.
Sibanye het ongeveer 33 000 werkers in sy diens.
Amplats
Amplats se loonooreenkoms is baie dieselfde as dié van Sibanye. Sy onderhandelinge het egter ’n derde vakbond ingesluit. Amplats se ooreenkoms is bereik met die National Union of Mineworkers (NUM), Amcu, asook Uasa. Sibanye het slegs met die NUM en Amcu onderhandel.
Amplats se werkers sal die hoogste van R1 000 per maand of 5,5% as verhoging ontvang.
Volgens Chris Griffith, uitvoerende hoof van Amplats, is dié onderhandelinge ook sonder probleme gevoer.
“Ons glo hierdie ooreenkoms sal verseker dat die onderneming volhoubaar kan bly,” sê Griffith in ’n Sens-verklaring.
Implats
Implats het nie uitgewei oor die verhogings nie, maar sê dis in pas met inflasie.