Teen Maart vanjaar het vyf mynwerkers in die land se myne gesterf, teenoor 14 in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dít is ’n verbetering van 69% op ’n jaargrondslag, sê die departement van minerale bronne.

Gevalle van gehoorverlies weens geraas het van 966 in 2016 tot 1 141 in 2017 gestyg. Foto: iStock
iStock iStock
In 2018 het die getal mynwerkers wat in mynverwante voorvalle dood is, met 10% op ’n jaargrondslag gedaal tot 81 sterftes, wys die departement se 2018-statistieke oor beroepsgesondheid en veiligheid in die mynbedryf. In 2016 het dié sektor die minste aangetekende sterftes gehad, naamlik 73, maar in 2017 het dit tot 90 opgeskiet.
Die meeste sterftes in 2018 was weer eens in die goudsektor (40), gevolg deur platinum (12) en steenkool (9). Sterftes in die platinumsektor was egter sowat 59% laer as 2017 se 29, sê die departement.
In 2018 was daar 12% minder beserings in die mynbedryf (van 2 669 in 2017 tot 2 350 in 2018).
Volgens die departement het gevalle van beroepsiektes tussen 2016 en 2017 (die jongste beskikbare syfers) met 3% gedaal van 4 632 gevalle tot 4 483.
Gevalle van gehoorverlies weens geraas het van 966 tot 1 141 gestyg, en meer silikose-gevalle is ook in 2017 aangemeld – 652 teenoor 635 in 2016. Tuberkulose-gevalle het van 2 580 in 2016 tot 2 247 in 2017 afgeneem.