Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Mynhuis mag steenkool uit droë gebied haal

Die omstrede mynhuis MC Min­ing, voorheen Coal of Africa (CoAL), het  aangekondig die departement van minerale bronne en energie het ’n mynreg aan hom toegestaan vir sy “Generaal Projek” in die dorre Limpopokom.

Die projek is deel van die mynhuis se Groter Soutpansberg-projek, wat sowat 78 000 ha beslaan.

MC Mining sê in ’n verklaring die Groter Soutpansberg-projek is strategies geleë naby die regering se Musina-Ma­khado- spesiale ekonomiese sone (SES). Volgens MC Mining is dít ’n gebied wat deur die regering opsy gesit is om op onder meer energie en die metallurgiese bedryf te fokus.

Omgewingsgroepe het hul misnoeë oor MC Mining se voortgesette mynbouplanne in die Limpopokom uitgespreek.

“Ons weet steeds nie waar MC Mining sy water vandaan gaan kry nie,” sê Wally Schultz, voorsitter van die organisasie Save Our Limpopo Valley Environment (Solve).

Solve is ook besig met regstappe teen MC Mining, die ministers van minerale bronne en energie en van menslike nedersettings, water en sanitasie.

“Ons weet steeds nie waar MC Mining sy water vandaan gaan kry nie.

Volgens Solve se lede het MC Mining nog nie in die nege jaar wat hy die Limpopokom in sy visier het “ ’n ons steenkool” gemyn nie, maar is die mynhuis op die Johannesburgse aandelebeurs genoteer.

MC Mining se projek is boonop binne-in die Vhembe-biosfeer geleë.

Christo Reeders, regsverteenwoordiger van die Vhembe Min­eral Resources Stakeholders Forum (VMRSF), het gister gesê daar is verskeie regstappe teen MC Mining aan die gang. Die VMRSF sal heel waarskynlik ook teen hierdie mynreg appelleer.

Ingevolge die Wet op Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) moet die proses om ’n mynreg te bekom binne 300 dae afgehandel wees. MC Mining erken by navraag hy het in 2013 reeds aansoek om ’n mynreg gedoen en dit is nou eers goedgekeur.

Woordvoerders van die departement van minerale bronne en energie het teen druktyd nog nie ’n antwoord daarop gehad nie.

Op ’n vraag wanneer MC Min­ing ’n strategiese omgewingsimpakstudie gaan doen om die volledige impak van sy myne op die streek vas te stel – soos wat hy vroeër op ’n openbare vergadering beloof het – sê Florence Duval­, korporatiewe bestuurder van MC Mining, in die lig van die “baie nywerhede” wat in die streek gevestig gaan word, sal die provinsiale regering dié proses moet dryf.

“Ons sal wel aktief daaraan deelneem.”

Verskeie ander projekte van MC Mining is ook al goedgekeur.

MC Mining se Vele-myn, ’n klipgooi van Mapungubwe, is al sedert 2013 in sorg en toesig nadat die Limpoporivier dit ten tyde­ van ’n vloed oorstroom het. CoAL het in 2009 by Vele begin myn, maar die gehalte was so swak dat niemand dit wou koop nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.