Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
NUM en Kumba haaks oor siekverlof

Die mynwerkersvakbond NUM is hoogs ontsteld omdat Kumba Iron Ore ná jare die aantal dae siekverlof wat werkers kry, wil verander.

Kumba besit onder meer die Sishen-ysterertsmyn in die Noord-Kaap. Foto: Argief

Die NUM sê hy het reeds ’n dispuut hieroor by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verklaar.

Die NUM sê dat Kumba al “vir donkiejare” 120 dae siekverlof aan werkers toeken.

“Tot ons ontsteltenis wil die maatskappy die voordeel en voorwaarde van indiensneming waaraan werkers al jare lank gewoond is, verander,” lui ’n NUM-verklaring.

Die NUM sê hy is baie teleurgesteld in Kumba se “onredelike en selfsugtige” houding.

Die vakbond sê dié kwessie is die enigste uitstaande kwessie voordat hy bereid sal wees om ’n nuwe loonooreenkoms te teken. Hy sê hy is reeds in ooreenstemming met Kumba oor die res van die loonaanbod.

Die NUM gee geen verdere besonderhede oor wat die nuwe aanbod is wat betref siekverlof nie.

Anglo American, van wie Kumba ’n filiaal is, het op navraag ook nie besonderhede gegee oor presies waaroor die geskil is nie.

’n Bron met kennis van die onderhandelinge, en wat anoniem wil bly, sê dit is nie duidelik hoekom die NUM ontsteld is oor die aanbod wat Kumba maak nie.

Volgens dié persoon is die nuwe aanbod oor siekverlof - dat werknemers voortaan op 30 dae siekverlof oor ’n tydperk van drie jaar geregtig is – soos wat die Wet op Diensbillikheid voorskryf.

Die 120 dae wat Kumba voorheen gegee het, het ook oor ’n tydperk van drie jaar gestrek.

Die persoon sê Kumba gaan ook nie net die siekverlof wat baie werknemers oor die jare opgebou het, wegneem nie.

Die aanbod is glo dat enige werker wat wel meer siekverlof as 30 dae het, dit eers kan gebruik voordat die beleid van 30 dae in werking tree.

Boonop word werknemers steeds die geleentheid gebied om, sou dit regverdig word, aansoek by die maatskappy te doen vir ’n verdere 90 dae siekverlof oor die drie jaar.

“Die verskil is nou dat die verdere 90 dae nie outomaties beskikbaar is nie, maar dat daarvoor aansoek gedoen moet word,” sê die persoon.

“Daar is dus eintlik geen groot verandering nie, net die manier hoe die voordeel aangebied word.”

Die persoon sê ook uit gesprekke met werknemers blyk dit dat Kumba oor die jare baie redelik en regverdig was wat betref die toestaan van addisionele siekverlof. Dit was selfs met die beleid van 120 dae in plek.

Die NUM en Kumba het nou ’n verdere 30 dae om via die KVBA oor die kwessie te onderhandel.

Meer oor:  Kumba Iron Ore  |  Num  |  Siekverlof  |  Verlof  |  Loononderhandelinge  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.