Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Nuwe lewe vir myne met dié boorder van skagte

Die JSE-genoteerde Master Drilling, ’n diensverskaffer van gespesialiseerde boortegnologie aan myne in meer as 23 lande, is ingenome met die toetsresultate tot dusver van sy nuwe blindeskagboorstelsel (SBS).

Master Drilling se toetsperseel by Fochville waar sleutelkomponente van ‘n nuwe blinde skagboorstelsel getoets word. Die stelsel kan skagte vinniger, goedkoper en veiliger sink as volgens die konvensionele plofstof-metode.Foto:

Die doel met die stelsel is om mynskagte vinniger, veiliger en goedkoper (wat betref die kapitaalbegroting) te kan sink, in teenstelling met die konvensionele plofstof-metode.

Die stelsel sal skagte van tot 2 km kan sink vir nuwe projekte waar daar nog geen infrastruktuur ondergronds bestaan nie, en sal ook bestaande skagte vir verskeie soort mynboubedrywighede kan vergroot. So sê Koos Jordaan, uitvoerende en tegniese direkteur van Master Drilling Group Ltd.

Dit word ’n “blinde” stelsel genoem omdat bestaande ondergrondse toegang nie benodig word nie.

Die maatskappy het die stelsel drie jaar gelede begin ontwikkel met die hulp van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) as finansiële vennoot, ná navrae uit die bedryf oor hoe ertsliggame van dieper as 1 000 m ekonomies bereik kan word. Deur die SBS te gebruik kan die skag-infrastruktuur heelwat goedkoper gebou word.

Dit sal skagte van tussen 7,5 m en 11,5 m in deursnee kan boor, wat voorsiening maak vir feitlik alle soorte mynboubedrywighede.

Jordaan sê die SBS gebruik soortgelyke tegnologie as tonnelboormasjiene wêreldwyd. Die masjien word met afstandbeheer van die oppervlak beheer, en daar is nie werksonderbreking om vir skofruilings voorsiening te maak nie.

Die toetsfase van sekere sleutelkomponente van die SBS het in September begin en duur tot vandeesmaand. Dit word in harde rotstoestande getoets op ’n perseel buite Fochville, waar Master Drilling se hoofkantoor is.

Dié tegnologie is nog nie voorheen enige plek ter wêreld in ’n harde rotsomgewing gebruik nie, sê Jordaan.

Vir die modulêre SBS word bewese tegnologie en stelsels saamgevoeg. Dit bestaan onder meer uit ’n voorloperboor wat die eerste nouer skag boor, ’n trekboor-kop wat die skag wyer maak en ’n hysstelsel wat die materiaal uit die skag na bo hys, het Rapport drie jaar gelede berig.

Jordaan sê die toetse waaraan die eerste twee komponente van die stelsel – die rotssnyer en ratkas wat die nodige wringkrag oordra – onderwerp word, behels die eerste van vyf fases om die stelsel hopelik teen 2021 kommersieel te ontplooi. Die doel van die toetse is om die komponente se werkverrigting en stabiliteit te bewys, asook die proses hoe die uitgeboorde materiaal na die oppervlak geneem word.

Sowat 95% van die gedetailleerde ontwerpwerk vir die SBS is voltooi en as die toetse suksesvol afgehandel is, sal Master Sinkers, die bedryfsentiteit vir die SBS, oorweeg om die stelsel te vervaardig. Dit sal sowat R500 miljoen kos en tot 60% van die verkryging sal plaaslik gedoen word, sê Jordaan.

Danie Pretorius, uitvoerende hoof, het vroeër vanjaar ten tyde van die Junior Mynbou-indaba in Johannesburg aan Rapport gesê dit raak vir mynmaatskappye al hoe moeiliker en gevaarliker om by diep ertsliggame uit te kom.

Izak Bredenkamp, sakeontwikkelingsbestuurder, sê wanneer die maatskappy dit regkry om ’n skag tot 1,5 km te boor teen gemiddeld 3 m tot 4 m per dag, kan dit die tyd om ’n skag te sink halveer vergeleke met die konvensionele metode. Dít beteken dus groot besparings. Volgens die konvensionele metode – teen sowat 1 m per dag – kan dit drie jaar neem om ’n skag van 1 km te sink.

Volgens Pretorius sal hul metode baie mynbedrywighede wat nie nou lewensvatbaar aangepak kan word nie, lewensvatbaar maak. Verskeie voornemende beleggers het by die indaba gesê as Master Drilling se SBS suksesvol is, sal potensiële projekte heroorweeg word.

Bredenkamp sê talle kommoditeite, wanneer dit ’n opbloei beleef, het ’n vensterperiode van sowat vyf tot sewe jaar vir goeie opbrengste. Terwyl dit tot drie jaar kan neem om ’n skag op die konvensionele manier te sink, sal die SBS dié periode verkort en kan die maksimum voordeel uit die opbloeitydperk van ’n kommoditeit verkry word.

Die SBS is een van Master Drilling se rits nuwe meganiese oplossings om mynbou meer kostedoeltreffend en veilig te maak. Die mobiele tonnelboorder wat nou by Northam Platinum se Eland-myn getoets word, is ontwerp om horisontale tonnels te boor en bestutting te doen, en kan 30 m-radiusdraaie hanteer. Die losstaande eenhede van die mobiele masjien loop op rusperbande en is merkbaar vinniger en meer produktief as konvensionele mynboumetodes, sê Jordaan.

Die span van Master Drilling op die toetsperseel naby Foch­ville. Van links is Klint Somerset (elektrisiën), Pedro Mucale (assistent), Nicol Goodwin (projekingenieur), Walter Tshabalala (passer), Lukas Muller (perseelbestuurder) en Gordon Brandon (passer). Agter hulle is die tydelike eksperimentele struktuur te sien, maar die komponente wat getoets word, boor ondergronds.
Meer oor:  Master Drilling  |  Koos Jordaan  |  Mynbou  |  Boorgate  |  Mynskag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.