Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Omgewing: Myne moet méér doen – PwC

Suid-Afrikaanse mynhuise skiet hulself in die voet omdat hulle nie genoeg verslag doen oor en doelwitte stel vir die uitwerking wat hul bedrywighede op die omgewing en gemeenskappe het nie.

’n Mynwerker by Impala Platinum in Rustenburg. Mynhuise sal meer as ooit tevore moet kan demonstreer dat hulle werkers en gemeenskappe se belange dien. Foto: Nadine Hutton, Bloomberg News

PwC se jongste verslag oor die stand van mynbou in Suid-Afrika toon Suid-Afrikaanse mynhuise stel nie daadwerklike teikens om te voldoen aan die sogenaamde omgewings-, maatskaplike en goeie-bestuursvereistes (ESG-verantwoordelikhede) wat aan maatskappye gestel word nie.

Mynhuise doen ook nie voldoende verslag oor of hulle die teikens wel haal nie.

PwC stel voor dat die mynbousektor meer daarop fokus om ESG-verantwoordelikhede deel van hul besluitnemingsprosesse te maak.

Wêreldwyd begin beleggers daarop aandring dat die maatskappye waarin hulle belê aan ESG-beginsels voldoen. Dit sluit in dat maatskappye se watergebruik en koolstofdioksiedspoor nie skadelik vir die omgewing is nie.

Beleggers hou maatskappye ook fyn dop om te sien of daar byvoorbeeld menseregtevergrype of korrupsie in die bestuursprosesse is. Veral millenniërs is baie gesteld daarop dat die maatskappye waarin hulle belê aan ESG-maatstawwe voldoen.

Morningstar, ’n beleggingsnavorsingsmaatskappy, het in Maart gesê 95% van millenniërs wat aan ’n peiling deelgeneem het, stel belang in volhoubare beleggings en 90% wil hê hul beleggings moet hul waardes weerspieël.

Vir die PwC-verslag is Suid-Afrikaanse mynhuise se ESG-verantwoordbaarheid gemeet in vier fokusareas: hoe die verskaffingsketting bestuur word; hoe mynhuise hul uitwerking op die omgewing, gemeenskappe en die ekonomie meet; klimaat-verwante risiko’s; en of natuurlike hulpbronne doeltreffend gebruik word.

In die navorsing het PwC bevind mynhuise is veral blootgestel aan politieke uitdagings, ekonomiese onstabiliteit en uiterste weersomstandighede wat hul verskaffingskettings negatief kan beïnvloed.

Baie min maatskappye stel egter teikens van hoe hulle hierdie uitdagings die hoof sal bied. Boonop doen min mynhuise genoeg verslag oor die direkte en indirekte uitwerking wat hul bedrywighede op gemeenskappe, die omgewing en die ekonomie het, lui die verslag.

In die nadraai van Covid-19 sal maatskappye meer as ooit moet kan bewys in watter mate hulle aan ESG-vereistes voldoen. Hierdie “nie-finansiële” inligting kan uiteindelik ’n wesenlike invloed op maatskappye se finansies hê.

Elize Botha, besturende direkteur van Old Mutual Trust, het in ’n verklaring gesê die ESG-fondse (wat in maatskappye belê waarvan die onderliggende beginsels versoenbaar is met ESG-vereistes) lewer op lang termyn beter opbrengste aan beleggers. Volgens Morningstar het 24 van 26 indeksfondse wat maatskappye met die beste ESG-puntetelling insluit, hul eweknieë uitgestof.

Hoewel die omgewingsaspek van ESG tot onlangs toe die grootste aandag onder beleggers getrek het, sal maatskappye se maatskaplike en bestuursverantwoordelikhede na verwagting al hoe meer onder die vergrootglas kom.

Mynhuise sal voortaan baie meer daarop moet fokus om verslag te doen oor dit wat hulle doen om werkers- en gemeenskapsgesondheid te bevorder.

Meer oor:  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.