Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
‘Ontgin VS-minerale pleks van kla’

Die Vrystaat moet liefs sy enorme minerale rykdom ontgin eerder as om te kla dat 48,5% van sy jeug werkloos is.

Op die Vrystaatse provinsiale regering se beleggerskonferensie in Bloemfontein is van links Gadija Brown, LUR vir finansies, Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, Makalo Petrus Mohale, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, kleinsake, toerisme en omgewingsake (Destea), en Montseng Tsiu, LUR vir gesondheid. Foto: Mlungisi Louw

Só het Mosa Mabuza, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Mynbouraad, op ’n beleggingskonferensie van die Vrystaatse provinsiale regering in die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein gesê.

Sowat 250 voornemende beleggers, sakelui, akademici en regeringsamptenare het die konferensie bygewoon.

“Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en die res van die regeringsamptenare hoef nie snags wakker te lê omdat 844 000 jeugdiges in die provinsie werkloos is nie,” het Mabuza gesê.

“Die Vrystaat is ryk aan uraan, steenkool én goud. Suid-Afrika het ’n derde van die wêreld se goud opgelewer waarvan 20% uit die Vrystaat gekom het.

“Nou pleit julle armoede en werkloosheid, maar ontgin nie die rykdom in jul grond nie.”

Mabuza het gesê dit blyk dat groot uraan-bronne in die rotse van die Karoo versteek lê, asook in sekere gedeeltes van veral die Suid-Vrystaat.

“Die Oos-Kaap en dele van die Vrystaat is ook ryk aan steenkool van hoë gehalte wat ontgin kan word.

“Meer navorsing behoort oor skoonsteenkool-tegnologie gedoen te word.”

Sowat 250 voornemende beleggers, akademici en regeringsamptenare het die Vrystaatse provinsiale regering se beleggerskonferensie by die Olienwenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein bygewoon.Foto: Mlungisi Louw

Prof. Philippe Burger, vise-dekaan van die fakulteit ekonomie en bestuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het gesê meesterplanne moet opgestel word van hoe die Vrystaatse ekonomie met openbare en private vennootskappe in samewerking met die UV ontwikkel kan word.

“Sakelui en die regering moet saamwerk. Die UV het kundiges wat kan help.”

Burger het gesê Vrystaatse munisipaliteite moet stabiel gemaak word om ’n stewige grondslag vir groei en werkskepping in die provinsie te verseker.

“Water en elektrisiteit moet ook behoorlik voorsien kan word. Sonkragplase kan ook opgerig word vir plaaslike verbruik en om elektrisiteit aan Eskom te verkoop.”

Hy het gesê Tito Mboweni, minister van finansies, se planne vir ekonomiese groei kan ook in die Vrystaat toegepas word.

“Die Vrystaat se groot potensiaal lê in landbou, agri-prosessering, toerisme en kragopwekking, wat geld na die provinsie kan laat instroom. Die vervoerbedryf kan ook verder by die spesiale ekonomiese sone by Harrismith uitgebou word.”

Hy het gesê onnodige rompslomp by regeringsinstellings moet uitgeskakel word wanneer beleggers Vrystaat toe kom.

Dr. Herman Fouché, wetenskaplike/navorser van die Landbounavorsingsraad, het oor innovering in agri-voedsel gepraat. Hy het in ’n skyfievertoning gewys hoe met nuwe produkte in ’n klimaatsveranderende omgewing waar droogte heers, geboer kan word.

Onder die Vrystaat se Chinese beleggers wat die geleentheid bygewoon het, is Brian Cheng (links) en Richard Hsu, albei van Sasolburg. Foto: Mlungisi Louw

“Pleks van om koring aan te plant waarvoor 1 300 liter water nodig is om ’n kilogram te verbou, kan produkte verbou word wat minder water nodig het.”

Hy het na die verbouing van kaktusplante (truksvye) verwys en ellelange lyste produkte gewys wat vir menslike en dierlike gebruik hieruit vervaardig kan word – “selfs kaviaar”.

Kapung Ralikontsane, direkteur van die Vrystaatse provinsiale regering, het voornemende beleggers uitgenooi om aangrensend tot die N3 (by Harrismith), N8 (op pad na Botshabelo en Thaba Nchu) en N6 (na die Oos-Kaap) met die regering sake doen.

Makalo Mohale, Vrystaatse LUR vir ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), het gesê sy departement wil graag die toerisme-potensiaal van die Vrystaat verder uitbou.

Hy het ook ’n Vrystaatse tydskrif met beleggersgeleenthede aan Ntombela oorhandig.

Ntombela het by beleggers gepleit om in die Vrystaat te kom belê sodat werk geskep kan word vir die werklose jeug, “wat my slapelose nagte besorg”.

Sy het ook gesê verskeie Vrystaatse plase wat aan die staat behoort, kan aan voornemende beleggers verkoop word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.