
Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn. Foto: Twitter
’n Volgende kaping van die Optimum-steenkoolmyn is glo op hande.
Netwerk24 het verlede week berig die sakeredders van die myn, Kurt Knoop en Johan-Louis Klopper, het beloof om alles in die stryd te werp om die myn te red wat deur die Gupta-familie “verkrag en gestroop is”.
Direko Mining and Exploration het ’n hofaansoek ingedien om Knoop en Klopper uit dié posisie te verwyder, maar die motiewe van Direko word bevraagteken.
Die maatskappy voer aan daar is ’n “redelike indruk” dat die sakeredders die belange van die Gupta-familie dien eerder as dié van die krediteure en werkers.
Die sakeredders ontken dit ten sterkste.
Knoop sê in hofstukke: “Dit is waarskynlik dat die aansoek ’n blote mondstuk is vir ’n prominente persoon agter die skerms met ’n verskuilde agenda.”
Rakmaatskappy
Direko is ’n rakmaatskappy en sy uitsluitlike doel is klaarblyklik om die Optimum-myn self te koop as die sakeredders van sy keuse aangestel word, sê Knoop.
Direko het die skuld van ’n krediteur gekoop sodat hy by magte is om as belanghebbende die hofaansoek te bring.
Die maatskappy se enigste direkteur is Andile Qaku. Sy sakevennoot is Eddie Marafane, ’n voormalige hoof van die Oos-Kaapse Parke-en-toerisme-agentskap wat betrek is by bedrog tydens die reëlings van oudpres. Nelson Mandela se begrafnis.
Marafane was in beheer van “Projek M”, waarin miljoene wanbestee is. Hy het bedank.
Hofstukke wys hoe Direko al sedert Januarie begin beplan het om die myn oor te neem.
Om ’n voet in die deur te kry, het Direko op 19 Februarie die skuld van ’n arbeidsmakelaar gekoop sodat hy nou ’n eis van sowat R16 miljoen teen Optimum het.
Knoop sê egter die kontrak tussen Direko en die arbeidsmakelaar, Bakone Technical Services & Supplies, is onregmatig omdat Bakone dit nie sedeer sonder Optimum se toestemming nie. Bakone het navrae verwys na sy prokureur, wat nie gereageer het nie.
Finansiering
Nóg ’n aanduiding dat Direko graag die myn wil oorneem, is ’n aansoek om finansiering wat by die Industrial Development Corporation (IDC) ingedien is en by die hofstukke aangeheg is. Marafane het die aansoek ingedien.
Die IDC het geweier om ’n oorname te finansier, maar het luidens hofdokumente voorlopig aangebied om kapitaal te verskaf indien Direko daarin slaag om beheer van Optimum oor te neem.
Die IDC het by navraag gesê dié brief is ’n standaardbrief wat nie bindend is nie.
“Toe die standaardbrief gestuur is, was Optimum nog nie in sakeredding nie.
“In die lig van die veranderende omstandighede sal die IDC sy posisie heroorweeg,” het ’n woordvoerder gesê.
Direko se prokureur,
Ruann Kruger, het ’n ooreenkoms met die Middelburg-tak van die vakbond NUM aangegaan om namens hulle om die verwydering van die sakeredders aansoek te doen, maar dié ooreenkoms is nie deurgesien nie omdat die tak nie toestemming van die NUM gehad het nie.
Direko is nie die enigste party wat die sakeredders verwyder wil hê nie.
Die Organisasie Teen Belastingmisbruik (Outa) sê Knoop en Klopper “was voorheen verbind aan die bestuur van die myn en is daarom gekompromitteer”.