Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Optimum: Krediteure aanvaar plan vir Gupta-myn
Die Optimum-steenkoolmyn. Foto: Bloomberg

Ná meer as twee jaar het krediteure van die Guptas se Optimum-steenkoolmyn ’n reddingsplan vir die myn aanvaar.

’n Meerderheid van 87,79% van krediteure het Maandag ten gunste van die plan gestem.

Ingevolge die plan gaan Templar Capital die eienaar van die myn word.

Dit is nou as Westdawn Investments se aansoek om likwidasie van die myn nie suksesvol is nie. Dié aansoek word egter eers op 24 November in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor.

Westdawn, wat self in November 2018 in likwidasie geplaas is, voer aan dat Optimum hom sowat R300 miljoen skuld.

Templar is die maatskappy aan wie Centaur in Junie al sy eise teen Optimum gesedeer het.

Centaur het op sy beurt destyds die Guptas gehelp om die myn by Glencore te koop.

Centaur het ’n eis van nagenoeg R1,3 miljard teen Optimum gehad.

Maandag kort voor die aanvang van die vergadering was daar egter vrae of die plan enigsins nog oorweeg kan word.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Bermuda beslis het dat Templar se bates, en spesifiek die eis wat hy teen Optimum het, nie verkoop mag word nie.

Netwerk24 het dié hofbeslissing onder oë gehad.

Dié beslissing kom nadat Griffin Line General Trading, ’n maatskappy wat in die Verenigde Arabiese Emirate geregistreer is, ’n likwidasie-aansoek teen Centaur gebring het.

Hy het aangevoer omdat Centaur se eis teen Optimum dié maatskappy se grootste bate is, moet alles moontlik gedoen word om te keer dat die bate verkoop word.

Daar word spesifiek verwys na Templar se voorstel om – as deel van die reddingsplan – die eis in ’n ekwiteitsaandeel in die myn te verander.

Juanito Damons, mede-sakeredder wat by Optimum aangestel is, het as eerste punt van die vergadering dit duidelik gestel dat die sakeredders ’n regsmening gekry het oor of die hofuitspraak ’n invloed op die reddingsplan sal hê.

Hy sê hulle is vol vertroue dat die plan nie deur die hofuitspraak beïnvloed word nie.

Hy het ook op bewerings gereageer dat die Guptas dur Templar steeds beheer oor die myn wil behou.

Damons sê daar is geen twyfel nie: Die Guptas besit geen belang in Templar nie.

Daar was oor die naweek mediaberigte waarin beweer is dat Akash Garg ’n direkteur is van Templar. Garg – wat ook bekend is as Akash Garg Jahajgarhia – is die man wat destyds in die glansryke troue by Sun City met Vega Gupta getroud is.

Vega Gupta is die dogter van Anil Gupta.

Garg is een van twee direkteure van Centaur, maar daar is nie bewyse dat hy by Templar betrokke is nie.

Waar daar wel ’n skakel is tussen Centaur en Templar, is dat Daniel McGowan, uitvoerende hoof van Templar, die ander direkteur van Centaur is.

Die plan

Ingevolge die reddingsplan wat nou voorlopig aanvaar is (onderhewig aan die hofbeslissing wat betref die likwidasie-aansoek), gaan Templar se eis nou in ’n ekwiteitsbelang omgeskakel word.

Hiervolgens gaan Templar ook Eskom se eis van meer as R1 miljard in steenkool omsit.

Ingevolge die reddingsplan, wat Netwerk24 gesien het, is daar ook ’n voorstel dat die skuld-tot-aandele-omskakeling insluit dat sekere kwalifiserende voor- en na-aanvangskuldeisers van Optimum die opsie sal hê om op ’n ooreengekome sent-in-die-rand-bedrag betaal te word. Dit sal betaalbaar wees óf in die vorm van kontant óf deur die omskakeling daarvan in niestemgeregtigde gewone aandele.

Groot krediteure soos Eskom en Transnet word nie by dié ooreenkoms ingesluit nie.

Die waarde van Templar se voorstel beloop R3,2 miljard. Dit sluit sowat R300 miljoen uit wat na raming nodig gaan wees om die myn weer in bedryf te stel.

As Westdawn se aansoek om likwidasie misluk, het Templar tot 31 Januarie 2021 om aan die eerste voorwaardes vir die transaksie te voldoen. Dit behels om dieptestudies te laat doen oor wat nodig gaan wees om die myn weer in bedryf te stel.

Daarna het Templar 60 dae om te bewys dat hy die nodige geld beskikbaar het om die myn in bedryf te stel. Daar gaan van hom vereis word dat die myn binne 18 tot 24 maande daarna weer 100% van sy produksievlak bereik.

Templar sal ’n filiaal skep wat 100% in Suid-Afrika gebaseer is wat die belang in Optimum sal besit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.