Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Optimum: Sakeredders op hete kole oor Eskom sloer

Dit is “van nasionale belang” dat die Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn, wat albei voorheen aan die Guptas behoort het, aan die regte maatskappy verkoop word.

Eskom het as grootste krediteur die finale sê oor of Project Halo die Tegeta-steenkoolmyne mag koop.

Hoewel dit dus uiters dringend is dat ’n finale besluit geneem moet word aan wié die myne verkoop word, moet dit steeds nie oorhaastig geneem word nie, sê Bouwer van Niekerk. Hy is die prokureur wat die verkoop van die bates wat voorheen aan die Guptas se Tegeta Exploration and Resources behoort het, namens die sakeredders behartig.

Hy het in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gesê die sakeredders besef daar is geweldige druk om die myne so gou as moontlik te verkoop en te verseker dat hulle steenkool aan Eskom lewer.

“Die besluit hang egter nie van ons af nie. Dit hang van Eskom as die grootste krediteur af,” sê hy.

“Ons het die bodproses reeds afgehandel. Sover ons bewus is, is al die inligting oor Project Halo wat Eskom aangevra het, reeds gestuur.

“Eskom moet dus nou die besluit neem oor of hy die voorstel gaan aanvaar dat Project Halo die bates oorneem of nie,” sê hy.

Van Niekerk wou nie bespiegel hoe Eskom met dié besluit vorder nie.

“Ek neem aan hulle wil 100% seker maak hulle neem die regte besluit en volg die regte prosesse. Julle gaan hulle self moet vra hoe hulle vorder,” stel hy voor.

Eskom het nie Vrydag op enige navrae oor die kwessie gereageer nie.

“Ons moet dringend uitsluitsel oor die kwessie kry.

“Ek moet my selfoon se battery meer as een keer per dag laai soos wat ek elke liewe dag rondbel om te hoor wat die stand van sake is,” sê Van Niekerk.

Mededinging

Optimum se sakeredders het die konsortium Project Halo as kopers van die Optimum- en die Koornfontein-myn, asook hul belang in die steenkoolterminus in Richardsbaai, aangewys.

Project Halo het ’n bod van R3,6 miljard vir die bates ingedien.

Die besluit om Project Halo as nuwe eienaar van die bates te kies, is egter nie orals goed aanvaar nie.

Ek moet my selfoon se battery meer as een keer per dag laai soos wat ek elke liewe dag rondbel om te hoor wat die stand van sake is.
Bouwer van Niekerk

Project Halo word deur die Australiese bank Macquarie gerugsteun.

Dit steek mededingers soos die Phakamisa-konsortium, wat ook gebie het, dwars in die krop.

Dié konsortium staan onder leiding van Sipho Nkosi, voormalige uitvoerende hoof van Exxaro, en Bernard Swanepoel, voormalige uitvoerende hoof van Harmony Gold.

Phakamisa het verstaan die plan was om die Gupta-myne aan ’n Suid-Afrikaanse maatskappy te verkoop, berig MiningMx.

Die NUM het vroeër in Januarie in ’n verklaring gesê: “Project Halo het geen finansiële spiere nie en het geen mynlisensie nie. Dit wys dat die sakeredders die krediteure ondermyn en al wat hulle wil hê, is om die onderneming verder te versmoor.”

’n Konsortium waarvan die African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC) lid is, het in Januarie aangekondig hy gaan ook nou vir dié myne bie.

Luidens Van Niekerk word die AEMFC deur die Sentrale Energiefonds gerugsteun.

Hy het egter voorheen aan Netwerk24 bevestig dat die bodproses afgehandel is en dat hulle nooit enige bod van die AEMFC ontvang het nie.

Lees ook: Staat se bod vir Guptas se Optimum ‘te laat’

Van Niekerk kon geen datum gee waarteen die transaksie moontlik afgehandel kan word nie.

Op die vraag oor of hy dink Eskom die besluit dalk kan uitstel tot nadat hy sy regrukplan gefinaliseer het, sê Van Niekerk hy hoop nie so nie.

“Ek glo Eskom kan die twee prosesse parallel hanteer.

Oorbruggingsfinansiering

Van Niekerk sê wat hom bekommer, is dat sou die proses sloer, die myne moontlik oorbruggingsfinansiering sal moet kry.

“Die plan was om die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) daarvoor te nader.

“Gegewe die onthullings die afgelope week by die kommissie van ondersoek oor hoe die OBK beleggings behartig het, weet ek nie of dit ’n keuse gaan wees nie.”

Van Niekerk sê egter daar is net ’n skraal kans daarvoor sou die transaksie regtig lank sloer om gefinaliseer te word. Dit behoort ook nie die transaksie te bedreig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.