Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Pallinghurst verander naam na Gemfields
’n Hopie ongeslypte robyne van Gemfields se myn in Mosambiek.Foto: Gemfields

Pallinghurst Resources, die hulpbron-gefokusde beleggingsgroep wat deur die veteraan mynbouleier Brian Gilbertson begin is, het Woensdag amptelik onder sy nuwe naam, Gemfields Group, op die JSE begin verhandel.

Pallinghurst, waarin die sakemagnaat Christo Wiese ook ’n belang het, was tot dusver onder die kortnaam PALLINGHT en die aandeelkode PGL onder die subsektor vir beleggingsinstrumente op die JSE se hoofbord genoteer, maar is nou bekend as GEMFIELDS, met die aandeelkode GML, en is steeds onder dieselfde afdeling genoteer.

Dit kom nadat Pallinghurst in 2017 geslaag het met sy oornameaanbod van Gemfields, wat toe op die Londense aandelebeurs genoteer was. Pallinghurst het ’n belang van 47% in Gemfields gehad en het toe ’n aanbod aan minderheidsaandeelhouers gemaak om sy belang tot meer as 75% te vergroot. Die groep het met ’n Chinese maatskappy, Fosun International, meegeding om beheer oor Gemfields te verkry, het Miningmx destyds berig.

Gilbertson, voorsitter van Gemfields, was in sy loopbaan in verskeie topposte in die mynbedryf, onder meer as besturende direkteur van Rustenburg Platinum en as uitvoerende hoof van Gencor, BHP Billiton en Vedanta Resources. Wiese het 'n 11,2%-belang in Gemfields, en Gilbertson self besit 1,83%.

Gilbertson het Pallinghurst Resources begin as ’n boetiekbelegger in mynboubates, en het dit in 2007 op die JSE genoteer. Met die oorname van Gemfields het die maatskappy egter meer van ’n bedryfsmaatskappy geword en vandaar die besluit om sy naam te verander.

Gemfields ontgin gekleurde edelgesteentes soos smaragde en robyne. Hy besit 75% van Kagem Mining in die kopergordel in Zambië wat as die enkele grootste smaragmyn in die wêreld beskou word. Hy besit ook 75% van Montepuez Ruby Mining in Mosambiek, wat robynreserwes besit.

Die groep besit belange in Sedibelo Platinum Mines, en Jupiter Mines, wat belange het in die grootste mangaanmyne in Suid-Afrika.

Gemfields het benewens die notering op die JSE ook ’n sekondêre notering op die Bermuda-aandelebeurs.

Sy aandeelprys op die JSE was Donderdag op R2,53.

Meer oor:  Gemfields  |  Christo Wiese  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.