Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Guptas se Koornfontein-myn kry koper

Die Guptas se Koornfontein-steenkoolmyn het waarskynlik ’n nuwe eienaar, met ’n staatsbeheerde firma deel van die konsortium wat dit uitkoop.

Die Optimum-steenkoolmyn deur dieselfde sakeredders as die Koornfontein-myn bestuur.

Dis nou as Lurco, die Suid-Afrikaanse myngroep wat as gekose koper deur die krediteure gekies is, betyds die koopbedrag in die land kan kry.

Die myn behoort aan die Guptas se Tegeta Exploration and Resources, ’n filiaal van Oakbay Investments.

Louis Klopper, die sakeredder wat reeds in 2018 by Koornfontein aangestel is, sê in ’n onderhoud met Netwerk24 dat die oorsese finansierder wat die R500 miljoen verskaf wat Lurco vir die myn gaan betaal, reeds verlede week ’n deel van dié bedrag na Suid-Afrika oorgeplaas het.

Krediteure vereis egter dat die balans voor 25 Oktober in die land moet wees.

Indien dit nie gebeur nie, sal Black Royalty Minerals (BRM) as koper aangewys word. Dié maatskappy het reeds die finansiering beskikbaar.

Bouwer van Niekerk, prokureur vir die sakeredders, het bevestig dat krediteure Vrydagaand ten gunste van die sakereddingsplan vir dié myn gestem het.

Klopper sê die groot rede hoekom daar op Lurco besluit is, is omdat hul aanbod hoër as die van BRM is.

“Ons glo dit is ’n beter aanbod en dat werknemers ’n beter uitbetaling sal kry as wat die ander maatskappye aangebied het,” sê hy.

Van Niekerk het bevestig dat Koornfontein se werknemers in November 2018 laas salarisse ontvang het.

Buiten die kwessie oor die finansiering, hang die transaksie ook daarvan af dat die departement van mineralebronne en energie die art. 11-mynlisensie moet goedkeur.

“Die oomblik wanneer dit gedoen is, sal die transaksie afgehandel word,” sê Klopper.

Van Niekerk sê dat dit Lurco sowat vier maande sal neem nadat die transaksie afgehandel is om die myn weer in bedryf te stel.

Koornfontein het voorheen steenkool aan Eskom gelewer.

“Ek glo Lurco is ’n goeie keuse,” sê Klopper.

“Die maatskappy verstaan die bedryf en toon lank reeds belangstelling in die bate.”

Ellington Nxumalo, uitvoerende hoof van Lurco, het later aan Netwerk24 bevestig dat Lurco die myn as deel van 'n konsortium gekoop het.

Die African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC), wat vroeër vanjaar saam met Lurco  ’n finansieringsooreenkoms van R1 miljard gesluit om die Optimum-myn weer in bedryf te stel, is deel van dié konsortium.

AEMFC is die staat se mynmaatskappy en is ’n filiaal van die Sentrale Energiefonds.

Optimum

Klopper én Nxumalo het bevestig dat Lurco en AEMFC ook belangstel om die Optimummyn te koop.

Die ooreenkoms tussen die sakeredders, Lurco en AEMFC is nie deurgevoer ná ’n vorige kooptransaksie waar Project Halo as die gekose koper van Optimum gekies is, deur die mat geval het nie.

“Ons hoop om die sakereddingsplan vir Optimum voor die einde van Oktober te publiseer waarna krediteure daaroor kan stem,” sê hy.

Klopper sê egter hulle verwag teenkanting van veral Oakbay.

“Ons sal nie verbaas wees as daar ’n aansoek om ’n interdik téén die sakereddingsplan by die howe ingedien gaan word nie.”

Meer oor:  Tegeta  |  Eskom  |  Oakbay  |  Lurco  |  Louis Klopper  |  Guptas  |  Koornfontein  |  Steenkoolkragstasies  |  Staatskaping  |  Krag  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.