Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Petra se enorme blou diamant verkoop vir $14,9 m.

Die enorme 20,08 karaat blou diamant wat die beleërde Petra Diamonds in September in sy Cullinan-myn gevind het is deur ’n anonieme koper vir $14,9 miljoen aangeskaf.

Die 20,08 karaat blou diamant wat Petra Diamonds in sy Cullinan-myn in Gauteng gevind het. Foto: Verskaf

Die diamant word as tipe IIb geklassifiseer, wat as die skaarsste soort diamant ter wêreld beskou word.

Petra het Vrydag in ’n verklaring gesê die koper is ’n “vooraanstaande diamantmaatskappy”, maar dat dié verkies om nie sy naam bekend te maak nie.

Die Cullinan-myn, waar die blou diamant gevind is, is in 1902 as die Premier-myn begin en is wêreldberoemd vanweë sy groot en skaars diamante.

Die beroemdste hiervan is waarskynlik die Cullinan-diamant self, wat in 1905 in dié myn ontdek is en later in nege kleiner diamante opgesny is vir hoofsaaklik die kroonjuwele van die Britse koningshuis.

Volgens Petra is die Cullinan-myn die bron van meer as ’n kwart van al die wêreld se diamante groter as 400 karaat, en ook die voorste bron van blou diamante.

Die prys wat die jongste uiters skaars blou diamant gehaal het, is ook die hoogste wat ontleders verwag het en kom neer op $741 000 per karaat.

Volgens Yuen Low, ’n ontleder van Shore Capital, kan dié enkele steen se rekordprys op sy eie ’n baie “welkome hupstoot” aan Petra se beleërde geldsake verskaf, berig Mining.com.

Richard Duffy, uitvoerende hoof van Petra, het self sy opgewondenheid in die maatskappy se verklaring gedeel.

“Ons is baie tevrede met (die prys wat die steen gekry het) wat ooreenstem met ons verwagtinge en die veerkragtigheid in die waarde van blou diamante van baie hoë gehalte – ongetwyfeld een van die natuur se skaarsste skatte – herbevestig,” sê Duffy.

“Ons sien uit daarna om hierdie uitsonderlike steen se reis na sy gepoleerde vorm te volg.”

“Ons sien uit daarna om hierdie uitsonderlike steen se reis na sy gepoleerde vorm te volg,” sê Richard Duffy, uitvoerende hoof van Petra Diamonds. Foto: Verskaf

Petra het in September, toe die diamant gevind is, pas sy myne se waardasie met $250 miljoen verlaag terwyl hy ook aangekondig het dat Adonis Pouroulis, sy voorsitter en medestigter, gaan uittree.

Die diamant se enorme prys kan wel eensklaps vir sowat 5% van sy myne se verlaagde waardasie opmaak.

Petra het grootskaalse finansiële probleme wat onder meer ’n magdom skuld insluit.

Dié skuld spruit hoofsaaklik uit die grootskaalse opknapping van die Cullinan-myn, ongelukkig uitgevoer net toe die wêreld se diamantmarkte begin krimp het weens die toenemende gewildheid van sintetiese diamante.

Petra het Vrydag ook aangekondig dat sy bestuurstruktuur drasties verander is.

Die mynmaatskappy se bedryfshoof, Luctor Roode, gaan nie net die maatskappy verlaat nie, sy pos sal ook gevries word.

Alle myne sal nou regstreeks aan Duffy rapporteer.

Duffy sê Roode se aandeel in die broodnodige herstrukturering was enorm en besing die lof van die voormalige bedryfshoof in Vrydag se verklaring.

Meer oor:  Petra Diamonds  |  Cullinan-Myn  |  Diamante  |  Diamantbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.