Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Petra vind enorme blou diamant by Cullinan

“Blou Maandag” het ’n ander betekenis gekry vir die beleërde Petra Diamonds-mynmaatskappy toe hy Maandag ’n enorme blou diamant van 20,08 karaat gevind het.

Die blou 20,08-karaat-diamant wat Maandag in die Cullinan-myn in Gauteng gevind is. Foto: Petra Diamonds

Die diamant word as tipe IIb geklassifiseer, wat as die skaarsste soort diamant ter wêreld beskou word.

Minder as 0,1% van alle natuurlike diamante val in hierdie klas, wat ’n baie lae vlak van onsuiwerhede bevat.

Petra het nog geen raming van die waarde verskaf vir die blou diamant wat hy by sy vlagskip-Cullinan-myn in Gauteng ontdek het nie, maar ’n soortgelyke diamant van 30 karaat is onlangs vir $26 miljoen verkoop.

Die Cullinan-myn, gestig in 1902 as die Premier-myn, is wêreldberoemd vanweë sy groot en uiters skaars diamante.

Die beroemdste hiervan is waarskynlik die Cullinan-diamant self, wat in 1905 by dié einste myn ontdek is en later in nege diamante opgesny is vir hoofsaaklik die kroonjuwele van die Britse koningshuis.

Volgens Petra is die Cullinan-myn die bron van meer as ’n kwart van al die wêreld se diamante groter as 400 karaat, en ook die voorste bron van blou diamante.

Maar dit is nie genoeg om Petra se grootskaalse finansiële probleme te verlig nie.

Petra se berg skuld spruit hoofsaaklik uit die grootskaalse opknapping van die Cullinan-myn. Ongelukkig is dié opknappings gedoen net mooi toe die wêreld se diamantmarkte begin krimp het.

Met diamantpryse nou op ’n rekordlaagtepunt, het Petra se aandeelprys op die Londense aandelebeurs getuimel tot ’n laagtepunt van sowat 7,95 pennies.

Petra het verlede week sy myne se waardasie met $250 miljoen verlaag terwyl hy ook aangekondig het dat Adonis Pouroulis, sy voorsitter en medestigter, gaan uittree.

Maar met ’n diamant wat waarskynlik eensklaps 10% van sy myne se verlaagde waardasie kan opmaak, is daar dalk nog hoop vir Petra.

“Met die fokus op Petra se balansstaat, is die verkoop van spesiale diamante wat ’n klein hupstoot kan wees vir kontantvloeivoorspellings positief vir die aandeel,” sê Edward Sterck, ontleder van die BMO. – Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Petra Diamonds  |  Koniklike Familie  |  Juwele  |  Mynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.