
Lonmin se Marikana-platinummyn.
Al ooit gehoor van rodium?
Dit is die wêreld se duurste edelmetaal en verhandel teen sowat $2 350 per ons.
Rodium is ’n byproduk wanneer platinum ontgin word, en word in die chemiese sektor en in katalitiese omskakelaars in motorenjins, gebruik.
Bloomberg berig die prys van rodium kan nóg verder styg, en dit is alles danksy die treurmare wat hom in die Suid-Afrikaanse platinumsektor afspeel.
Impala Platinum (Implats) het Donderdag aangekondig hy gaan vyf van sy 11 skagte in Rustenburg sluit.
Dit sal beteken sy verwagte produksie van platinumgroepmetale gaan daarna van 750 000 fynons per jaar tot 520 000 fynons daal.
Lonmin is ook besig om van sy ou skagte te sluit wat die hoeveelheid platinum wat hy gaan lewer gaan beïnvloed.
Geen myn produseer nét rodium nie.
Dus sal die afname in die produksie van platinum, noodwendig daartoe lei dat minder rodium geproduseer word.
Gerry Dawson, ’n handelaar van edelmetale, sê hy voorspel dat as daar minder rodium op die mark beskikbaar is, dit weer die prys skerp sal laat styg – tot moontlik $10 000 per ons.
Dit was wel die geval tien jaar gelede toe daar vir vyf jaar lank ’n tekort aan rodium was.
Nikos Kavalis, konsultant by Metal Focus, sê hy dink die prys kan binnekort tot sowat $3 000 per ons styg.
“Rodium is ’n baie klein mark.
“Beleggers onthou steeds dat die prys voorheen bo die $10 000-vlak gestyg het,” sê hy.
Johnson Matthey, ’n maatskappy wat spesifiek op die platinumsektor fokus, sê hy verwag waar daar in 2017 ’n tekort aan rodium was, daar in 2018 ’n oormaat van sowat 68 000 ons kan wees.
Maar daarna gaan dinge waarskynlik verander.