Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Probleme by smelter looi Amplats op beurs

Probleme by Anglo American Platinum (Amplats) se Waterval-smelter naby Rustenburg is ’n wanklank ná die onlangse vreugde oor sy goeie resultate.

Die maatskappy het Vrydag aangekondig dat hy alle produksie in dié aanleg vir sowat 80 dae gaan staak.

Amplats het sy Waterval-smelter naby Rustenburg gesluit om noodsaaklike herstelwerk te doen.Foto: Verskaf

Dit kom nadat ’n ontploffing op 10 Februarie skade aan fase A in dié aanleg aangerig het. Fase B is tóé in bedryf gestel om die produksie te hanteer.

Water wat egter nou by dié fase se hoogoond instroom, het Amplats genoop om die hele aanleg af te skakel.

Die maatskappy sê hy weet nie waar die water vandaan kom nie.

Dit gaan sowat 80 dae neem om dié fase te herstel, terwyl herstelwerk aan fase A waarskynlik eers deur die loop van die tweede kwartaal van 2021 afgehandel gaan word.

Amplats verwerk egter nie nét in dié aanleg erts wat in sy eie myne ontgin word nie, maar ook dit wat deur ander mynmaatskappye geproduseer word.

Amplats het dus force majeure verklaar omdat hy voorlopig nié sy kontraktuele verpligtinge met dié maatskappye sal kan nakom nie.

’n Force majeure verwys na ’n onverwagte gebeurtenis wat nie een van die partye se skuld is nie en nie voorsien kon word nie.

Amplats sê hy dat hy na verwagting gedurende die 2020-boekjaar nou slegs tussen 1 500 en 1 700 onse platinum en tussen 1 100 en 1 200 onse palladium sal kan produseer.

Hy het voorheen verwag om in die huidige boekjaar tussen 2 000 en 2 200 ons platinum en 1 400 en 1 500 onse palladium te produseer.

Die beduidende laer verwagte produksie kan sy finansiële prestasie benadeel. Dit is omdat die platinum- en palladiumpryse tans hoog is, maar die rand beduidend teenoor die dollar verswak het.

Amplats verkoop platinum en palladium in dollar, maar doen verslag van finansiële resultate in rand.

Dit was juis weens dié situasie dat Amplats onlangs goeie resultate vir die jaar tot einde Desember 2019 bekend gemaak het.

Tóé het die maatskappy ’n finale dividend van R52,60 per aandeel verklaar. Dit is 368% hoër as ’n jaar gelede.

Hoewel produksie met net 1% gestyg het, het die maatskappy se inkomste met 33% tot R99,6 miljard gestyg.

Amplats se aandeelprys het Vrydag ná die aankondiging met meer as 14% gedaal.

Dit het Maandagoggend aanhou daal en het kort nadat die beurs begin verhandel het, reeds bykans 19% tot R771,00 op die JSE gedaal.

Dit is die eerste keer sedert 2 Oktober dat Amplats teen minder as R1 000 per aandeel op die beurs verhandel.

Meer oor:  Anglo American Platinum  |  Amplats  |  Platinum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.