Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
PwC: Myne speel groot rol in stryd teen pandemie

Die mynbou lewer wêreldwyd ’n baie groot bydrae in die stryd teen die koronaviruspandemie.

Impala Platinum se myn naby Rustenburg in Noordwes.

“Dit is dikwels net mynmaatskappye wat in afgeleë landelike gebiede bedrywig is. En te midde van die pandemie staan hulle nie net hul werknemers by nie, maar ook die gemeenskappe waarin hulle werk,” sê Andries Rossouw, vennoot vir mynwese en energie by PwC.

PwC het Dinsdag sy jongste Mynbouverslag bekend gestel. Die verslag – die 17de wat hy uitreik – is op ’n aanlyn gespreksessie met die media bespreek.

Die maatskappy gebruik mynmaatskappye se jaarverslae om ’n lys van die 40 grootste mynmaatskappye in die wêreld saam te stel en ook tendense te identifiseer.

Luidens die jongste verslag het mynmaatskappye wêreldwyd reeds onderneem om $280 miljoen te bestee in die stryd teen die pandemie. Rossouw sê egter hul betrokkenheid strek veel verder as finansiële bydraes vanweë hul steun aan werknemers en gemeenskappe.

Invloed op mynbou ‘nie beduidend’

Hoewel daar nog nie enige akkurate voorspellings gemaak kan word oor presies wat die invloed van die pandemie op die sektor is nie, verwag PwC nie dat dit beduidend gaan wees nie.

“Die maatskappye is almal baie veerkragtig, so ons verwag dat hulle hierdie storm betreklik goed gaan weerstaan.”

Rossouw sê hoewel produksie in sommige lande, soos Suid-Afrika, lank ingeperk was en in sommige gevalle bykans tot stilstand gekom het, voorspel dit nie noodwendig ’n ineenstorting van die sektor nie.

Die styging in die prys van hulpbronne in dié tyd, en in Suid-Afrika veral in rand, behoort in 'n groot mate die invloed van laer produksie teen te werk.

“Ons sien veral dat die goudprys in rand rekordhoë vlakke bereik het, terwyl die prys van die platinumgroepmetale taamlik stabiel gebly het.”

Rossouw sê die mynbousektor het reeds baie lesse uit die pandemie geleer.

“Mynmaatskappye het geleer dat hul vaartbelynde prosesse nie noodwendig goed werk in ’n situasie soos dié nie. Sommige maatskappye moes waarskynlik skarrel om verskaffers te kry wat produkte gedurende dié tyd kon lewer.”

Veilige afstand tussen werknemers

Rossouw sê die invloed van die handhawing van ’n veilige afstand tussen werknemers moet nog gesien word.

“Veral die land se goudmyne gaan hieronder deurloop omdat dié myne so diep is. Weens dié regulasie mag minder werkers op ’n slag in die hyser ondergronds gaan, en dit gaan noodwendig produksie beïnvloed.”

Dit is ook moeilik om te sê wat die invloed gaan wees as daar ’n grootskaalse uitbreking van Covid-19 by ’n myn is.

“Dit is nie so maklik om ’n diep myn te ontsmet nie. Só ’n myn sal waarskynlik tydelik gesluit moet word.”

Rossouw sê PwC se verslag wat spesifiek op die Suid-Afrikaanse mynbousektor fokus – wat in September uitgereik word – behoort ’n meer akkurate prentjie te kan skets oor die uitwerking van die pandemie op die plaaslike sektor.

PwC meen die mynbousektor het genoeg kontant beskikbaar om die pandemie die hoof te bied.

Luidens die top-40 maatskappye se jaarverslae het hulle aan die einde van 2019 $88 miljard kontant beskikbaar gehad.

Boonop verwag PwC dat mynmaatskappye se kapitaaluitgawes in 2020 met minstens 20% gaan daal.

“ ’n Mens kan net wonder wat die maatskappye met al die kontant gaan doen. Gaan hulle dit in dividende uitbetaal of gaan hulle dit eerder hou vir ’n noodgeval?” vra hy.

2 van SA steeds in top-40

Verlede jaar was twee “suiwer Suid-Afrikaanse” mynmaatskappye steeds op die top-40 lys – Impala Platinum (31) en Sibanye-Stillwater (36).

PwC verwys na mynmaatskappye wie se grootste bedrywighede in Suid-Afrika is, as “suiwer Suid-Afrikaans”.

AngloGold Ashanti het met nege plekke van nommer 35 tot 26 geklim, maar hy is van plan om ook sy laaste Suid-Afrikaanse bate – die Mponeng-goudmyn in Gauteng – te verkoop.

Anglo American, waarvan Kumba en Anglo Platinum deel vorm, het van sewende tot agtste posisie op die lys geskuif. Vanweë sy wêreldwye bedrywighede word hy nie as “suiwer Suid-Afrikaans” beskou nie.

Die drie grootste mynmaatskappye in die wêreld was onveranderd teenoor 2018, naamlik BHP, Rio Tinto en Vale.

Die gesamentlike markwaarde van die top-40 het in 2019 met 19% tot $898 miljard gestyg.

PwC verwag egter vanjaar ’n laer markwaarde. Die voorlopige markwaarde soos op 30 April 2020 was reeds 16% laer op $752 miljard.

Hul gesamentlike inkomste verlede jaar was 4% hoër op $692 miljard, maar hul wins voor belasting was 11% laer op $89 miljard.

Hulle het altesame $55 miljard in dividende aan beleggers betaal – 25% meer as in 2018.

Meer oor:  Vale  |  Sibanye-Stillwater  |  Anglo American  |  Implats  |  Pwc  |  Rio Tinto  |  Platinum  |  Myne  |  Goud  |  Goudprys  |  Covid-19  |  Mynbou  |  Koronavirus  |  Mynwerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.