Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Radioaktiewe gas kort dringend aandag
’n Argieffoto van die Sibanye-goudmyn in Westonaria, Gauteng. Goudmynboubedrywighede van die verlede kan daartoe lei dat Suid-Afrikaners in sekere gebiede aan radon blootgestel word. Foto: ELIZABETH SEJAKE

Suid-Afrika sal dringend moet begin om ter wille van mense se veiligheid die vlakke van radon in die atmosfeer te monitor.

Radon, ’n radioaktiewe edelgas, is in baie lande naas sigaretrook die grootste oorsaak van longkanker.

Die Nasionale Kernreguleerder (NKR) het die afgelope week aan parlementslede gesê talle lande in Europa en ook die VSA vereis dat wonings gereeld gemonitor word vir die teenwoordigheid van radon.

Dit is egter nog nie ’n wetlike vereiste dat huise in Suid-Afrika gemonitor word vir radon-blootstelling nie, het die NKR se woordvoerder, Gino Moonsamy, aan Rapport gesê.

Suid-Afrika se goudmyn­bedrywighede oor die afgelope meer as 100 jaar verhoog die risiko van radon-blootstelling omdat daar nie in die verlede genoegsame beheer uitgeoefen is oor radioaktiewe stof in mynbou-afval en slyk nie.

Radon kan ook voorkom in gebiede waar uraan gemyn word.

Moonsamy sê die NKR maak tans seker dat wettige mynboubedrywighede voldoen aan die nodige veiligheidsvereistes. “Dit sluit in die vasstelling van die konsentrasie van radon in die omgewing.”

Radon kan egter ook vrygestel word in boumateriaal en natuurlik voorkom in bepaalde geologiese formasies.

Die NKR is tans besig om die nasionale kernwet en -regulasies te wysig sodat daar in die toekoms verpligte monitering sal wees wat ingevolge behuisings- en konstruksiewetgewing, asook munisipale verordeninge, afgedwing kan word.

Die NKR, wat onder beheer staan van die departement van minerale bronne en energie, het die afgelope week sy jaarsyfers aan die gelyknamige parlementêre portefeuljekomitee bekend gestel. Die organisasie, wat verantwoordelik is vir kernveiligheidstandaarde en die monitering van kernvlakke, het gewaarsku dat hy bekommerd is oor sy geldsake weens sy huidige sakemodel.

Die NKR kry 80% van sy inkomste uit lisensiegeld van organisasies soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa) en mynmaatskappye en 20% van die nasionale regering.

“Die feit dat Eskom en Necsa in die knyp is, beteken die NKR kan ook binnekort in die knyp wees as die organisasies nie langer hul heffings aan ons kan betaal nie,” het die uitvoerende hoof, dr. Mzubanzi Tyobeka, gesê. Eskom se geldsake is benard en die semistaatsinstelling kan kwalik die rente op sy skuld bekostig. Necsa is na wat op IOL berig word ook in geldelike nood en daar word gevrees dat hy nie salarisse aan die einde van Oktober kan betaal nie, tensy hy ’n eenmalige reddingsboei van die regering ontvang.

Die NKR se Tyobeka het aan parlementslede gesê sy begroting word grootliks gewy aan salarisse van personeellede wat op hul beurt weer inspeksies vir kernveiligheid moet doen.

“Ons is eintlik belangriker as die weermag. Die weermag het artillerie, maar ons veg teen ’n onsigbare vyand – bestraling. Ons het inspekteurs nodig om veiligheid te waarborg.”

Die NKR stel voor dat sy finansieringsmodel hersien word en dat sy geld regstreeks van die nasionale tesourie af kom en dat die lisensiegeld wat hy dan invorder aan die regering oorbetaal word, soortgelyk aan hoe sy eweknie in die VSA gefinansier word.

Meer oor:  Nersa  |  Necsa  |  Eskom  |  Mynbou  |  Gas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.