Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
Rodium toe veel blinker as goud!

Dis nie aldag dat goud se glinster deur iets anders verdof word nie.

Rodium, een van die platinumgroepmetale, is baie meer werd as goud.

Maar beleggers kyk met begerige oë na rodium, een van die platinumgroepmetale (PGM), wat nou sowat tien keer meer werd is as goud.

Die prys van rodium het die afgelope vyf jaar met sowat 3 000% opgeskiet. Dit het begin vandeesweek teen $19 900 per ons verhandel teenoor goud se sowat $1 852.

Die konsultante Metals Focus het onlangs volgens Reuters gesê rodium se prysstyging hou verband met die feit dat die rodiumvoorraad verlede jaar met 16% gekrimp het weens die ontwrigting van verwerkingsbedrywighede by Amplats.

Een van die belangrikste gebruike van rodium is in katalitiese omsetters in voertuie wat skadelike uitlaatgas beheer. Volgens newagemetals.com was byna 90% van die wêreldvraag na rodium in 2019 van die sektor vir katalitiese omsetters.

Nadat die voertuigvervaardigingsbedryf ook in 2020 deur die Covid-19-pandemie teruggehou is, tel dit nou weer kop op en gevolglik is die Chinese voertuigvervaardigers se vraag na rodium weer groter.

Suid-Afrika produseer sowat 85% van die jaarlikse vraag na rodium, wat volgens die webblad die seldsaamste en waardevolste edelmetaal ter wêreld is.

Peter Armitage, uitvoerende hoof van Anchor Capital, het verlede week op ’n webinaar oor waar beleggers in 2021 geld kan maak, gesê die lokoprys van rodium is sowat 64% hoër as die 2020-gemiddelde; ystererts s’n is 54% hoër, platinum s’n is nagenoeg 22% op en dié van palladium 10% op teenoor die 2020-gemiddelde. Dit laat die vraag of mynbou-aandele steeds goedkoop is.

Armitage het gesê selfs as kommoditeitspryse nie veel meer styg nie, genereer maatskappye soos Sibanye, Anglo American en Exxaro goeie kontantvloei.

Simon Brown, direkteur van die beleggingswebwerf JustOneLap.com, het in ’n onlangse rubriek in Finweek geskryf mynbouaandele sal vanjaar uitstekende resultate lewer, “met Anglo American amper op ’n ongeëwenaarde hoogtepunt”.

“Anglo het ook PGM, ystererts en baie koper.”

Brown het ook verwys na Sibanye-Stillwater, wat deur sy plaaslike bates goeie PGM-blootstelling het.

Sibanye-Stillwater, met verskeie mynbedrywighede in Noordwes, is die wêreld se grootste primêre produsent van platinum en rodium en die tweede grootste primêre produsent van palladium.

Volgens Armitage het Suid-Afrikaanse aandele sedert Oktober baie goed gevaar.

Die Suid-Afrikaanse mark word gedryf deur faktore wat ontluikende markte bevoordeel soos risiko-aptyt. Wat die JSE betref vaar kommoditeite goed en Anchor Capital is ook positief oor Naspers en Prosus se vooruitsigte vanjaar. In sy Suid-Afrikaanse portefeuljes maak Anchor seker daar is ’n sterk globale posisionering.

Armitage het gesê Suid-Afrikaanse aandele kan in die volgende vyf jaar as basis-aanname opbrengste van 6% per jaar lewer, maar beleggers moet seker maak hulle kies fyn, kies die regte maatskappye en daar is buitelandse blootstelling. In ’n bulmark kan opbrengste met tot 10% groei, maar in ’n beermark ’n negatiewe opbrengs van 0,9% lewer.

Nolan Wapenaar, beleggingshoof by Anchor Capital, het gesê baie kliënte het verlede jaar geld landuit geneem en breed geglimlag toe hulle dit teen ’n wisselkoers van sowat R19 teenoor die Amerikaanse dollar kon terugbring. Van dieselfde kliënte neem nou weer geld uit.

Tog waarsku hy dit moet vir die regte redes gedoen word: Om te diversifiseer en wanneer daar wantroue in die politiek is.

Meer oor:  Platinum  |  Mynbou  |  Goud  |  Edelmetale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.