Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mynbou
SA moet dringend prospekteer
Mynhelms gereed om gedra te word. Foto: Glencore

Die huidige gebrek aan mynbou-prospektering hou ’n bedreiging in vir die voortbestaan van die bedryf. Boonop gaan die goeie beeld wat die regering probeer voorhou, volgens kenners nie genoeg wees om mynmaatskappye sover te kry om weer te begin prospekteer nie.

Net 1% van prospektering oor die wêreld heen vind in Suid-Afrika plaas, sê Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad van Suid-Afrika. Volgens hom behoort daar genoeg prospektering in Suid-Afrika te wees om minstens 5% van die wêreldtotaal uit te maak. Dit is teenoor 14% vir onderskeidelik Kanada en Australië en 13% vir die res van Afrika.

“As ons nie ’n prospektering-pypleiding het nie, het ons nie in die toekoms ’n bedryf nie,” sê Baxter. Hy het ’n beroep gedoen dat ’n strategie op die been gebring moet word om prospektering te bevorder. Baxter het die afgelope week op die Investing in African Mining Indaba in Kaapstad gepraat.

Ook pres. Cyril Ramaphosa het sy kommer hieroor uitgespreek in sy toespraak op die indaba Woensdagmiddag. “As regering glo ons mynbou is ’n sleutelspeler in die groei van die land en ons het groot potensiaal vir prospektering. Waarom het prospektering afgeneem?

“Ek het Gwede Mantashe (die minister van mynbou) gevra om hom daarop toe te spits om die bedryf in rat te kry om weer te begin prospekteer.

“Aansienlike werk is gedoen om die onsekerheid wat die bedryf teruggehou het, uit die weg te ruim. Ons het uit ’n situasie verrys waar die howe die platform geword het waar die bedryf en die regering met mekaar praat.

Ons het gesê ons sal nie ’n SEB-teiken op prospektering sit nie, want dit is nie waar die waarde is nie.
Roger Baxter

“Ons wil met julle in jul raadsale en in minister Mantashe se kantore vergader,” het hy aan die meer as 500 mynbouleiers gesê wat na sy toespraak kom luister het.

Mantashe het op sy beurt gesê die regering besef dat swart ekonomiese bemagtigingsteikens prospektering kan vertraag en dat dit daarom nie by die jongste weergawe van die Mynbouhandves ingesluit is nie.

“Ons het gesê ons sal nie ’n SEB-teiken op prospektering sit nie, want dit is nie waar die waarde is nie. Teikens moet ingestel word waar produksie plaasvind. Ons moedig maatskappye aan om meer te prospekteer, want dit is die lewenslyn van mynbou.”

Om bloot die “regte geluide” te maak gaan egter nie mynmaatskappye oorreed om te begin prospekteer nie, sê Peter Leon, ’n vennoot by die regsfirma Herbert Smith Freehills.

“Die regering probeer ’n beter beeld voorhou, maar hulle gaan daad by die woord moet voeg.” Hy sê die lae vlak van prospektering is ’n “baie slegte teken”. Selfs die verbeterde Mynbouhandves gaan nie beleggers teruglok nie, sê Leon.

“Wêreldwyd is staatskuratorskap (van myne) nie ongewoon nie. Die meeste state het kuratorskapregte. Ek dink nie dit is die werklike probleem nie. Die werklike probleem is die hoë vlakke van diskresie en die gebrek aan verpligte tydraamwerke. In Botswana kan regte binne ses tot agt weke toegestaan word. In Suid-Afrika neem dit 12 maande.” Die “ondoeltreffendheid” van die departement is ook ’n probleem.

Leon sê die feit dat die president die indaba toegespreek het, wys die regering is uiters besorg daaroor dat die regte beleggingsklimaat geskep moet word.

Dit is die eerste keer dat ’n president van Suid-Afrika by die indaba praat.

Intussen het Total die afgelope week aan-gekondig ’n nuwe gas- en olieveld is in die Brulpadda-veld in die Outeniqua-kom sowat 175 km van die Suid-Kaapse kus ontdek. Kevin McLachlan, senior visepresident van prospektering by Total, beskryf die ontdekking in ’n verklaring as “wêreldklas”.

Ramaphosa het die ontdekking as ’n moontlike “spelbreker vir die land” beskryf met noemenswaardige gevolge vir die land se energiesekerheid en die ontwikkeling van die bedryf.

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Mynboubedryf  |  Geldeenhede  |  Mynbou  |  Myne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.