
Die Optimum-steenkoolmyn word soos die Koornfontein-myn deur dieselfde sakeredders bestuur.
Die Guptas se Koornfontein-myn gaan verkoop word.
Die sakeredders wat by dié myn en sewe ander Gupta-maatskappye aangestel is, sê in hul plan dit sal beter wees om die myn te verkoop en so enige werkverliese te keer.
Louis Klopper, een van die sakeredders, sê maatskappye wat belang stel om die myn te koop gaan eers ’n deposito van R60 miljoen as deel van die bodproses moet neersit.
Die sakeredders dring ook daarop aan dat die nuwe eienaar ’n plaaslike mynmaatskappy moet wees.
Tot tyd en wyl die myn verkoop is, gaan Burgh Group Holdings (BGH) dit bestuur.
Klopper het op 10 April aangekondig dat die Britse maatskappy Vitol, deur middel van BGH se Ezimiwayo Consulting, ’n ooreenkoms gesluit het om 200 000 ton steenkool per maand van die Optimum- en die Koornfontein-myn via Richardsbaai uit te voer.
Die sakeredders sê in die plan wat hulle nou vir Koornfontein ter tafel gelê het, dat buiten om ’n inkomste vir die myne te verdien, die ander groot rede vir die ooreenkoms is om bankgeriewe vir die myne te bekom.
BGH sal deur sy rekeninge die geriewe bied nadat al die handelsbanke in Suid-Afrika geweier het om sake met Gupta-maatskappye te doen.
BGH gaan ook die finansiering voorsien om ’n oopgroefmyn by Koornfontein te begin.
Die sakeredders sê in hul plan die ondergrondse infrastruktuur is tans van so ’n aard dat dit nie gebruik kan word nie.
BGH sal R70 miljoen se finansiering in drie paaiemente hiervoor verskaf. Hy het egter die voorwaarde gestel dat hy die eerste skuldeiser is wat betaal moet word nadat die myn verkoop is.
Hy sal ook die nodige masjinerie verskaf om oppervlakbedrywighede moontlik te maak.
Die sakeredders sê hulle verwag dat dié bedrywighede eers in Julie op dreef sal kom aangesien dit is hoe lank dit gaan neem om die infrastruktuur en prosesse in plek te kry.
Optimum
Wat betref die Optimum-myn beplan die sakeredders nog nie om dit te verkoop nie.
Hulle het voorheen gesê die myn sal sy ooreenkoms om steenkool aan Eskom te verskaf nakom.
Van die steenkool wat daar gemyn word, sal ook as deel van die ooreenkoms met BGH aan Vitol verkoop word.
Die sakeredders het onlangs groot teenkanting van die Gupta-maatskappye gekry en is toegang tot persele en dokumentasie geweier.
Die hooggeregshof in Johannesburg het egter beveel die maatskappye moet saam met die sakeredders werk en hulle toegang tot alle dokumentasie en persele gee.